General

Viertrek- rit om die Groot Trek te gedenk

Agt viertrek-voertuie vertrek eersdaags vanaf die Klipbokkop 4×4 Akademie naby Worcester in die Wes-Kaap om die roete van die trekleier Piet Retief vanuit Oos-Kaapland tot in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, te volg.

Dié tog, onder leiding van die Federasie van Afrikaner-Kultuurverenigings (FAK),  vorm deel van die 175ste herdenking van die Groot Trek wat vanaf 1835 tot 1838 plaasgevind het. Die 4×4-trek begin amptelik op Maandag, 16 September, wanneer die groep van 34 mense vanaf Retief se plaas, Mooimeisjesfontein, buite Grahamstad, wegtrek om sy roete oor die Winters- én Drakensberg te volg.

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, sê die groep sal tydens die “trek” kampvuurgesprekke hê met geskiedkundiges en nasate van Voortrekkerleiers soos Retief, en belangrike geskiedkundige plekke op die Groot Trek-roete sal besoek word.

Onder meer sal ‘n draai gegooi word by Post Retief, die graf van Anna Steenkamp (Retief se niggie), asook Winburg, Vegkop en die Geloftekerk in Pietermaritzburg voordat die tog op 27 September by die Bloedrivier-monument sal eindig. ‘n  Goodyear – bandspoor van die voertuie sal langs die 1938 Eeufees-spoor by die Vrouemonument afgedruk word as deel van die Vrouemonument se honderdste herdenking.

Gerhard Groenewald van die Klipbokkop 4×4 Akademie, wat as  “trekleier” vir die groep sal optree, sê dit sal interessant wees om te sien hoe hedendaagse viertrekvoertuie en bande vaar op die roete wat 175 jaar gelede deur Piet Retief en ander trekkers se kakebeen-ossewaens uitgetrap is.

“Hoewel hedendaagse tegnologie ‘n tog soos dié wat meer as 175 jaar gelede afgelê is redelik vergemaklik, sal daar tog uitdagings wees. Veral die roete oor die Winterberge, asook die steil afdraendes in die Drakensberg en die rivierkruisings sal die 4×4-vermoëns van ons Toyota Hilux-voertuie toets.

“Vergeleke met die trekgroepe van die verlede, wat heelwat op eie vindingrykheid moes staatmaak om terugslae te oorkom, is ons groep goed voorberei vir die tog danksy moderne toerusting soos kampeer- en ander 4×4-toerusting van 4×4 Megaworld, bande van Goodyear en HiQ verskaffers landswyd, veldwaens van Jurgens, en beligting en yskaste van Nationale Luna,” sê Groenewald.

Die viertrekvoertuig-Trek sal later as dokumentêre program op kykNET uitgesaai word. Die tog kan op verskeie webwerwe en aanlyn-platforms gevolg word, onder meer op die FAK se webtuiste www.fak.org.za, Klipbokkop 4×4 se webtuiste www.klipbokkop.co.za, asook op verskeie media-netwerke en –publikasies se webtuistes, onder meer www.kyknet.co.za, www.weg.co.za, www.wegry.co.za, www.rapportinrat.co.za en www.caravansa.co.za.  www.maroelamedia.co.za