Dwaalboom Boer van die jaar aangewys

Ems Strydom

 

DWAALBOOM- Jaarliks vereer Saamwerk Boerevereniging die Dwaalboom-distrik se boere met die gesogte titels van Bees-,Wild- en Saaiboer van die Jaar en word tydens die jaarlikse Oesfees aangewys.

Die boere wat vanjaar die gesogte titels ingepalm het, is George Potgieter, Wildboer van die jaar, Eric Heroldt, Beesboer van die jaar en Jacques Stephanus as Saaiboer van die jaar. Die trofeë en pryse is Vrydag 13 September tydens ‘n middagete en boere-inligtingsessie uitgedeel.

Boere word jaarliks genomineer, waarna daar drie finaliste uit elke groep gekies word. Die kriteria waaruit die beoordeling gedoen word, is baie streng en buitebeoordeelaars doen die finale beoordeling.

Beoordeling begin al wanneer daar by die plaashek ingery word. Daar is verskeie aspekte, insluitend: ingang na plaas, netheid, brandpaaie, omheining, toestand van drade, grootte van kampe met hoeveelheid diere per kamp, hoeveel vroulike diere loop saam met ‘n bul/ram, waterpunte, word diere gereeld gedip, ontwurming, genoegsame lekaanvullings, vrugbaarheid van diere, brandmerk, kondisie van diere en so meer.

Hierdie Oesfees is jaarliks vir die boere ‘n hoogtepunt, buiten die toekennings is daar ook baie interessante inligting gemik op die boerdery.

Kallie Lee het ook die boere meer oor beeste ingelig: waarna moet jy kyk as jy ‘n manlike of vroulike dier aankoop, of verkoop. ‘n Verskeidenheid beesrasse was beskikbaar om prakties elke eienskap uit te wys.

38-Dwaalboom Oesfees (3)

Drickus Verster, voorsitter van Saamwerk Boerevereniging (heel links), saam met die boere van die jaar: George Potgieter (Wildboer van die Jaar), Jacques Stephanus (Saaiboer van die Jaar) en Eric Heroldt (Beesboer van die Jaar).