Community

Boervrou maak ‘n plan

THABAZIMBI – Amanda de Wet het saam met vier van haar plaaswerkers verlede maand eiehandig ‘n paar slaggate op ‘n gedeelte van die R511 wat voor haar padstal verbygaan, reggemaak.

Dit het gevolg nadat Amanda male sonder tal moes toekyk hoe motoriste, wat deur die slaggate ry, hul voertuigbande beskadig. Hierdie gedeelte, byna onbegonne nasionale pad, gaan voor haar padstal by die Northam/Dwaalboom afdraai verby.

Amanda het op 26 Augustus besluit genoeg is genoeg nadat twee jong mans hul splinternuwe voertuig gerol het nadat hul deur een van dié groot slaggate gery het. Die twee was oppad na die Oppikoppi-fees naby Northam en was salig onbewus van die slaggate. Alhoewel hulle nie baie seergekry het nie, het die voertuig groot skade opgedoen.

Met die hulp van haar plaaswerkers het sy van die slaggate herstel. “Ek is self ‘n ma en sou myself verwyt het as een van die twee seuns iets moes oorkom,” het sy aan Kwêvoël gesê. Sy vertel hoe hulle een skemeraand ‘n jong dame te hulp moes snel, toe sy haar voertuig se wiel verloor het nadat sy deur een van dié slaggate gery het. “Dit is onveilig om alleen op dié pad te wees.”

Dit is die departement van paaie se verantwoordelikheid om hierdie pad te herstel, maar weens ‘n tekort aan fondse, word die opgraderings en herstelwerk aan nasionale paaie agterweë gelaat.

Die motoriste bedank Amanda en haar werkers vir hierdie onselfsugtige daad. Foto: Christo de Koker.

38-Boervrou maak 'n plan 2

Amanda de Wet (in die bakkie) het saam met haar plaaswerkers die slaggate naby haar padstal herstel, nadat verskeie motoriste hul bande hier beskadig het. Vlnr: Micheal, Moses, Themba en Isak.