Verskeie brande saai verwoesting

THABAZIMBI – Verskeie brande is die afgelope week in die Thabazimbi-area by Thabazimbi Brandbeskermingsvereniging aangemeld.

Marakele Plotte het heelwat skade opgedoen met ‘n totale 60 hektaar wat gedurende die week afgebrand het. ‘n Grasdakhuis het tot teen die grond afgebrand. Niemand is tydens die brande beseer nie. Die munisipale brandweer en Kumba se mynspan het hulp verleen met die bestryding van dié brand. TBZ Brandbeskermingsvereniging (TBV) doen ‘n beroep op die eienaars van die plotte om te voldoen aan die brandwet. “Eienaars van plotte is onder die indruk dat hulle nie hoef te voldoen aan die brandwet nie, omdat hul plot te klein is,” het Renette Lategan, sekretaresse van die TBV aan Kwêvoël gesê. Alle grondeienaars moet egter brandpaaie hê en ook oor die nodige brandtoerusting, om vure op hul grond te beveg, beskik.

Nog ‘n brand het Saterdagaand groot skade by die Rooiddam-area aangerig. Na wat beweer word, het die vuur ontstaan as gevolg van ‘n kortsluiting op ‘n Eskomlyn. Sowat 100 hektaar is verwoes.

Die brand wat vroeër dié week in die berge agter Maroelasfontein uitgebreek het, het teen Woensdag tot teenaan die Maroelasfonteinpad gebrand. Sowat 8000ha is vernietig. Working on Fire se span, onderleiding van Willem Crause, het hier hulp verleen.

Die voorsitter van TBV, Anton Scheepers het tydens hul vergadering op Woensdag, 11 September sy bedanking ingedien. DA-raadslid Franco Loots, wat ook ingesit het op die vergadering, het aan Kwêvoël gesê: “Dit is vir my ‘n jammerte dat Anton bedank het. Hy was waarlik ‘n aanwins op die voorsitterstoel.”

Weens die feit dat daar lede en sektore is wat nie ledegeld wil betaal nie, moet hul noodgedwonge van hul funksies inperk en sodoende kan hul nie voldoen aan hul besigheidsplan nie.

Gerrie Visagie is tydelik aangestel as brandbeskermingsbeampte totdat die departement van landbou, bosbou en visserye ‘n permanente BBB kan aanstel. Alle brandaansoeke word soos normaal deur die sektorleiers hanteer.

Kwêvoël Nuuskamer: Estie Taljaard estie@kwevoel.co.za

37-Rooiddam brand

‘n Brand by die Rooiddam-area het groot skade aangerig.