Klein jakkalsies met Chris Chameleon
THABAZIMBI – Die Spar Super KunsteGrot was Saterdagaand volgepak tydens Chris Chameleon wat vir die vierde keer sy buiging op die verhoog in Thabazimbi gemaak het.
Hy is gulhartig deur die gehoor ontvang en almal het aan sy lippe gehang oor sy staaltjies uit sy grootwordjare en sy tyd as BOO toe hy saam met die groep in die buiteland getoer het.
Een van Chameleon se drome as kind was om vir die Drakensbergse Seunskoor te sing. Finansies het sy ma daarvan weerhou om hom te stuur maar hy het tog die geleentheid gehad om saam met die groep tydens ‘n uitvoering op te tree. Een van die liedere wat hy saam met die koor toe gesing het was Andrew Lloyd Webber se Pie Jesu uit sy Requiem Mass. Saterdagaand het die gehoor die voorreg gehad om Chameleon se vertolking, van hierdie pragtige stuk, net met sy eie kitaarbegeleiding, te hoor. Sy vier-oktaafstem het weereens almal beïndruk en dit was al asof ‘n gewyde stilte oor almal neergedaal het.
As verdere deel van sy program het hy versoeke uit die gehoor aangevra en dit was duidelik dat hy oud en jonk vermaak met sy stem soos Klein Jakkalsies en Apie wat groot byval gevind het.
Rita Volschenk van die Spar Super KunsteGrot saam met Chris Chameleon na afloop van die vertoning.