Leiers reik uit na gemeenskap

THABAZIMBI – Die leiers van Laerskool Koedoeskop het op Dinsdag 27 Augustus by Huis Immergroen gaan kuier.

Die leiers het tydens ‘n vorige sportgeleentheid by die hek gewerk en R600 ingesamel. Hierdie geld is aangewend om kleinkoekiebestanddele aan te koop en koekies vir die senior burgers te bak.

“Ons het die hele Vrydagmiddag gebak en brou maar dit was groot pret,” het een van die leiers gesê.

Gewapen met die blikke vol koekies is hulle na Huis Immergroen om die seniorburgers te bederf. Daar gekom, het hulle lekker saam met die “Oumas en Oupa” tee gedrink en gesels. Tussendeur die kuier, was daar tyd om by die verskeie kamers in te loer en stories uit te ruil. Huis Immergroen se enigste doring tussen die rose, oom Joos, was die meisies se gunsteling kuiermaat.

Die leiers was aangenaam verras met die pragtige gebou, kleurvolle plante en gerieflike kamers. “Dit was ‘n heerlike middag wat ons nie gou sal vergeet nie”, sê LS Koedoeskop se hoofdogter, Hanré Odendaal.

37-Ls Koedoeskop Uitreik leiers

LS Koedoeskop se leiers het koekies gebak vir die inwoners van Huis Immergroen. Vlnr: Elsabe du Toit, Anzel Lombaard, Ina Engelbrecht (leiervoog), Linmari Ras, Veruschka Pretorius en Hanré Odendaal (hoofdogter).