R5000 met blikskud vir bejaardes

THABAZIMBI – ‘n Vreemde gesig het menige Thabazimbi inwoners en besoekers op Vrydag 26 Julie om 15:00 sprakeloos gelaat. ‘n Klompie “bejaardes” het op die drierigting-kruising voor Pick n Pay asook die vierrigting by BP vulstasie hul dokters, verpleegsusters en versorgers in koue sweet laat uitslaan, bewerasies laat kry soos iemand wat aan ‘n ongeneeslike galkoors ly, en gemaak dat hul sommer namens die bejaardes ‘n ekstra kalmeerpil of ses wegsluk. Sommige polisonderskrywers het dit selfs oorweeg om hul aan drank en slegte gewoontes oor te gee. Die rede hiervoor was dat die “bejaardes” in die spitsverkeer tussen die motors gestaan en blik geskud het.

Eenhede soos Tambotie Versorgingseenheid vir Verswakte Bejaardes steun swaar op die finansiële ondersteuning van die korporatiewe mark en die gemeenskap om doeltreffende diens te kan lewer.

Die Hervormde Kerk se Jeug het besluit om hul eie “Ubuntu-projek” te loods. Die kinders het hul soos bejaardes aangetrek, gesigte gegrimeer en op die straathoeke gaan blikskud. Menige motoris was erg verontwaardig toe hul die “oumense” tussen die motors sien met hul blikke. Gelukkig het die jeug groot baniere langs die pad aangebring, waarop duidelik geverf is dat die jeug geld insamel vir die bejaardes. Nadat die motoriste eers sien waaroor dit gaan, het hul harte en beursies oopgegaan en het hul ruim bygedra. Op hierdie manier is R5000 ingesamel en aan Tambotie oorhandig.

36-Hervormde Kerk jeug 0(2)

Die “bejaardes” wat braaf genoeg was om blik te skud in die verkeer.