Goue reëls vir ‘n Goue huwelik
THABAZIMBI – Suid-Afrika het 1-7 September, vir die eerste keer Nasionale Huweliksweek gevier. Die doel was dat huweliksmaats op hul huwelike fokus en kon verskeie hulpmiddele by www.myhuwelik.co.za aflaai om hulle gedurende die week op die regte spoor te bring.
Kwêvoël het vir Ilze Neethling, sielkundige berader, gevra of daar enige goue reëls is wat paartjies kan toepas om te verseker dat hulle die toets van die tyd sal deurstaan. Ilze sê: Alle huwelike ervaar met tye probleme, selfs diegene wat die goue (50-jaar) bruilofskerf bereik. ‘n Huwelik is dus nie noodwendig gedoem omdat julle mekaar seergemaak het, swak kommunikeer of nie oor dinge saamstem nie. Huwelike kan slaag, veral waar die volgende slagysters vermy word.
Onrealistiese verwagtinge of eise kan ‘n huwelik kelder. Baie mense glo dat hul huweliksmaat hulle moet gelukkig maak. So ‘n verwagting is meestal gebore uit eie behoeftes en onsekerhede. Wanneer jou maat faal om aan hierdie eise te voldoen (jou maat toon liefde, maar op ‘n ander manier as wat jy dit ervaar of wil hê) begin jy jou maat blameer vir jul probleme. Jy glo dan jy het die reg om kwaad en teleurgesteld te wees indien hy/sy nie aan jou bloudruk van die perfekte maat voldoen nie. Sodoende aanvaar jy dus ook nie verantwoordelikheid vir jou eie geluk of om aan die probleem te werk nie, en blameer jou maat vir jou ongelukkigheid.
Leer hoe jou maat liefde wys en betoon ook gereeld liefde. Die meeste mense het ongelukkig ‘n baie eng idee van wat liefdesgebare behels. Dit is die daaglikse dingetjies wat ons maats doen wat hulle nie hoef te doen nie, of nie regtig lus is om te doen nie, wat eintlik wys dat hulle omgee. Dink byvoorbeeld aan tye waar jou maat namens jou ‘n foonoproep gemaak of beantwoord het, of dalk die kinders besighou omdat jy ‘n gunsteling sepie wil kyk (of sy sorg vir koue bier omdat sy weet daar is ‘n rugbywedstryd oor die naweek). As sulke banale, alledaagse dinge nie liefdesgebare is nie, wat was dit, en wat was die punt daarvan? As jy jou maat se liefdestaal leerken en daaraan kan erkenning gee, sal jou maat begin ervaar dat hy/sy waardeer word (mense voel gewaardeer deur hoe die ander persoon reageer op wat vir hom/haar gedoen word) en jy sal ook meer gelukkig wees wanneer jý begin besef dat selfs ‘n koppie koffie soms ñ geheime kode is vir “Ek is lief vir jou”.
Moet veral nie jou maat se ouer wees nie. Jou maat is ‘n volwasse persoon en het gekies om sy/haar lewe met jou te deel, en hopelik waardeer jy dit. As jy begin ouerspeel of instruksies uitdeel (jy eet te veel, sorg dat jy 12:00 tuis is, hoekom is jy laat, waar was jy?) sal jou maat begin optree soos ‘n ongehoorsame tiener. Dit veroorsaak ‘n ongebalanseerde magsverhouding wat slegs kan lei tot onvergenoegdheid en die skeihof. Dit beteken nie dat jy nooit jou opinie mag lug nie, maar dra dit respekvol oor as jou opinie of versoek en nie as instruksie nie.(Daar is ook geen verskoning vir oneerbiedige kommunikasie nie.)
Die grootste slagyster….Die uitgangspunt dat jou maat moet verander as oplossing vir julle probleme, is nie volhoubaar nie. Boonop ontneem dit jou maat van selfvertroue en die moed om emosioneel teenoor jou oop te maak. Dus het jy, die sielsgenoot, nou juis die vyand geword teen wie hy/sy hulself moet beskerm.
Daar bestaan ongelukkig nie onfeilbare reëls vir huweliksukses nie. Maar as ek reëls moes uitsonder sou ek sê, verander eerstens jou eie gedrag en houding as om jou maat te probeer verander. Ook moet ons, ons beperkte sieninge of verwagtinge van die huwelik gereeld hersien. Vermy dus bogenoemde slagysters en jy en jou maat staan ‘n goue kans om wel eendag daardie goue huweliksjare te bereik.
Ilze Neethling is ‘n gekwalifiseerde sielkundige berader en psigometris. Privaat praktyk nr: 0248606, HPCSA Reg. Nrs PRC 0003425; PMT 0078336, BA. Psych; Hons Psych (cum laude) MTh (cum laude) – Unisa. Besoek haar webwerf by www.goodpsychology.net
____
ZigZiglar beskryf die grondslag van ‘n suksesvolle huwelik eintlik baie goed:“I have no way of knowing whether or not you married the wrong person, but I do know that many people have a lot of wrong ideas about marriage and what it takes to make that marriage happy and successful. I’ll be the first to admit that it’s possible that you did marry the wrong person.
However, if you treat the wrong person like the right person, you could well end up having married the right person after all. On the other hand, if you marry the right person, and treat that person wrong, you certainly will have ended up marrying the wrong person. I also know that it is far more important to be the right kind of person than it is to marry the right person.
In short, whether you married the right or the wrong person is primarily up to you!”