AIS by wykskomiteevergadering
THABAZIMBI – ‘n Wykskomiteevergadering van wyk 2 Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit is op Dinsdag 27 Augustus om 18:00 te CFC Bonanza gehou. Min wyksmkomiteelede het vir dié belangrike vergadering, opgedaag en die Speaker sowel as haar verteenwoordiger, was ook afwesig.
Gert Pretorius en Bennie van Rensburg van AfriCAN Innovative Solutions (AIS) het ‘n voorlegging oor die watersituasie gelewer. Volgens AIS is die wateropgraderingsproses nou in Fase 2 en kan inwoners uitsien na goeie watertoevoer, alhoewel daar nog vir die volgende sewe maande baie wateronderbrekings gaan wees.
Voorts het die vergadering te kenne gegee dat lede van die wykskomitee nie betrokke is nie, dus sal hulle ander lede moet kry om op die komitee te dien.
Rooiberg se sinkgate is ‘n groot bron van kommer. Die myne wat die grond gemyn het, het aansoek gedoen vir mynsluiting. Die lisensie is egter nie goedgekeur nie, aangesien die grond eers gerehabiliteer moet word. Daar vind ook tans onwettige plakkery en rommelstorting plaas. Die vergadering het opdrag gegee dat die saak dringend aandag moet geniet.
Volgens ‘n inwoner, Frik Erasmus, is swak dienslewering by die rekeninge-afdeling by Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit aan die orde van die dag. Rdl Scruton het daarop gereageer en gesê dat hy reeds daar besoek afgelê het om te poog om die betrokke departement meer gebruikersvriendelik te maak. Ongelukkig is die rekeninge steeds foutief en die diens is steeds nie op standaard nie. Chris Barkhuizen, van die Thabazimbi Sakekamer, het ook reeds besoek afgelê by die hoof finansiële bestuurder om ander probleme te hanteer.
Die rekeninge is nie konstant nie en wissel van maand tot maand. Verder is daar buitensporige hoë rekeninge wat aan verbruikers gegee word. Rdl. Scruton is bewus van al die probleme en dit is al baie male deur hom aangespreek, maar steeds gebeur dit dat die rekeninge foutief is. Verder word probleme ondervind met lesings wat sommige maande oorgeslaan word. Kennisgewings word ook nie vroegtydig aan die inwoners gegee nie en elektrisiteit word summier afgesny. Rdl Joubert het saam met eiendomsagente die hoof finansiële bestuurder gespreek oor baie punte wat hierby aansluit. Die opvolgvergadering gaan binnekort weer plaasvind. Rdl. Joubert stel voor dat hierdie sake weer aandag moet geniet, sodat die dienslewering daadwerklik kan verbeter word. ‘n Aantekenregister kan ook baie help om klagtes te hanteer en sodoende doeltreffend aan te spreek. Rdl. Joubert doen die voorstel dat die finansiële portefeuljekomitee deur ‘n uitsoekgroep van hierdie komitee gespreek kan word om voorstelle aan te hoor.
Die voorafbetaalde elektrisiteitstelsel het ook aandag geniet tydens die vergadering. Dit het onder die lig gekom dat 33% van die watermeters vervang moet word. Inwoners dring egter op voorafbetaalde elektrisiteit aan. Verder is die opgradering van die elektrisiteitstoevoerlyn bespreek. Dit is van die Geïntegreerde ontwikkelingsprogram verwyder en die vergadering voel dat daar nie genoeg gedoen word om die krisis aan te spreek nie. Jaarliks vind oorlading plaas, wat lei tot kragonderbrekings wat dae lank duur.
Tans is daar prosesse rakende die promulgering van bywette wat nie gevolg word nie en is daar verwys na die hooggeregshofsaak rakende die boorgate waarby R112 000 ter sprake is.
Erfbelasting is uitgelaat by die begroting en steeds is geen inligting ontvang nie. Die tariewe is nie goedgekeur nie, want dit was nie in die begroting nie.
Die rioolsloot by uitbreiding 37 ook kommerwekkend. Rdl. Joubert is besig om die saak met die tegniese bestuurder uit te klaar. Volgens Joubert word daar vir langer as ‘n jaar daar blatant in sy gesig gelieg oor die installering van die pompe. So ook oor die brandkrane by Jan Beyers se besigheidsperseel. Vir langer as ‘n jaar doen die munisipaliteit niks om hierdie probleme aan te spreek nie. Die raadslede gaan daadwerklik iets doen om hierdie sake aan te spreek.
Ander sake wat bespreek is, sluit in die onwettige storing van vullis, veral by die plotte, die kliniek oorkant die ouetehuis wat bewoon word, bewoning van besigheidspersele, die ongelukke wat in Steenbokstraat plaasvind en die enorme dwelmprobleem waaronder Thabazimbi inwoners ly. Hou Kwêvoël dop vir die datum van die volgende wykskomiteevergadering.
Kwêvoël Nuuskamer: Estie Taljaard estie@kwevoel.co.za
Voor vlnr: Bennie van Rensburg (AfriCAN Innovative Solutions), Gert Pretorius (AIS), Paul Scruton (Wyksraadslid: Wyk 2) en Bertie Joubert (Uitvoerende Komitee Raadslid). Agter: Wykslede en belanghebbendes tydens die wykskomiteevergadering. Foto: DA-raadslid Franco Loots.