Polisie moet verduidelik oor forensiese werkers
AfriForum het ‘n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting op die nasionale kommissaris van polisie se kantoor beteken rakende die beskikbaarheid van forensiese maatskaplike werkers in die Suid-Afrikaanse Polisie.
Volgens Nantes Kelder, hoof van AfriForum se ondersoekeenheid, is die aansoek gebring nadat AfriForum ‘n privaat forensiese maatskaplike werker moes kontrakteer om ‘n 4-jarige slagoffer van ‘n beweerde seksuele misdryf te assesseer. Die saak teen die beskuldigde sou van die hofrol geskrap gewees het indien AfriForum nie ingegryp het nie, nadat die polisie nie ‘n forensiese maatskaplike werker beskikbaar gehad het wat die slagoffertjie in Afrikaans, sy huistaal, kon assesseer nie.
Volgens Kelder blyk dit dat daar nie net ‘n tekort aan forensiese maatskaplike werkers is om Afrikaanse kinders te assesseer nie, maar dat die tekort oor die algemeen ‘n krisis vir slagoffers van alle taalgroepe veroorsaak. “Die enigste verloorders in die hele proses is ons kinders, veral dié kinders wat in arm omstandighede grootword,” het Kelder gesê. Kelder het verder daarop gewys dat die betrokke slagoffer saam met sy ma in ‘n wendy-huis bly. Die moeder sou nie uit haar eie kon betaal vir sy assessering nie.
Kelder het ook daarop gewys dat die ondersoekbeampte in die betrokke geval by verskeie geleenthede nie eers die hofsaak bygewoon het nie. Daar is sedert die saak geopen is ook nog nie ‘n verklaring by die slagoffer geneem nie. “Dit is weer klinkklare bevestiging dat die polisie en die regering nie die belange van kinderslagoffers op die hart dra nie. Kinders word letterlik aan die oortreder se genade oorgelaat,” het Kelder bygevoeg.
AfriForum se aansoek om inligting van die nasionale kommissaris, generaal Riah Phiyega, wat self ‘n gekwalifiseerde maatskaplike werker is, word hierby aangeheg.