Northam VLU bak en brou

SWARTKLIP – Die Northam VLU-dames het op 13 Augustus 2013 ‘n heerlike dag by Dina Smith se tuiste geniet.

Dina het die dames touwys gemaak oor hoe ‘n hoender ontbeen moet word. Vir diegene wat dit nog nooit gedoen het nie, was dit maar ‘n grillerige besigheid, maar die dames het die demonstrasie geweldig leersaam gevind en sal nou hul Kershoenders self kan ontbeen en opstop.

“Jy begin deur die hoender se vel op die rug versigtig oop te sny. Dan haal jy die hele rug en borsbeen uit. Daarna moet jy die boudbeentjies uithaal. Wanneer dit gedoen is, kan jy die hoender vul met die vulsel van jou keuse,” het Dina verduidelik. Sodra die hoender gevul is, kan dit netjies met naald en garing toegewerk word en siedaar, reg vir die oond. Dina het ook genoem dat die hoender so bevries kan word vir later se gebruik, maar as jou gesinslede hul lus nie langer kan hou nie, plaas die hoender in ‘n baksakkie, gooi speserye, sout en peper daarin, knoop toe, maak twee gaatjies in die sakkie om lug te laat uitkom en bak by 180 grade celcius tot gaar.

35-Northam VLU Dina

Dina Smith verduidelik hier aan die dames van Northam VLU hoe belangrik ‘n vlymskerp mes is om die hoeder te ontbeen.