Thaba geskok oor groot dwelmprobleem

THABAZIMBI – ‘n Groot groep plaaslike inwoners wat onder die naam “Thabazimbi teen Dwelms” bewusmaking oor dwelmhandel en dwelmgebruik probeer kweek, het vandeesweek aan Kwêvoël gesê dat daar nog baie mense is wat geskok is om te sien hoe groot die dwelmprobleem regtig is.

Volgens Thaba teen Dwelms se woordvoerder, is daar baie mense wat nog ‘n blinde oog gooi en sê dat dwelmgebruik en dwelmhandel nie met hulle kinders sal gebeur nie.

“Maar mense dis tyd dat ons ingelig raak, jou kind het maatjies – maatjies wat nie so sterk soos jou kind is nie en dit kan jou kind negatief beïnvloed sonder dat jy dit besef,” het Thaba teen Dwelms gesê.

Hulle wil hê dat ouers bewus moet wees waarmee hul kinders daagliks gekonfronteer word. Kinders moet ‘n baie sterk wil hê om hierdie aanslae te weerstaan. “Hoekom is die alkoholgebruiksyfer onder tieners so hoog? Om nie eens te praat van die kinders wat seksueel aktief is nie. Mense ons almal het tog geliefdes, bure of kennise wat jy nie wil hê moet in hierdie strikke moet val nie – en niemand is gevrywaar teen dit nie,” het Thaba teen Dwelms se woordvoerder gewaarsku.

Twee lede van Thaba teen Dwelms was verlede week by ‘n seminaar, waarby hulle hulpmiddels en inligting gekry het om hierdie saak te probeer stuit. Hulle pleit by die gemeenskap om saam te staan om hierdie ongewenste elemente uit die dorp te verwyder.

‘n Nuutgestigde forum sal al hierdie aspekte aanspreek en hulle beoog om die publiek toe te rus met die nodige kennis om hierdie probleem hok te slaan. Enige persoon wat betrokke wil raak by die projek, kontak hulle by thabateendwelms@gmail.com. “Ons het soveel moontlik hulp nodig.”