Sewe ongelukke oor naweek
THABAZIMBI – Gerugte van sewe motorvoertuigongelukke in en om Thabazimbi het vandeesweek die ronde gedoen. Twee is deur die verkeersafdeling bevestig, alhoewel nie een van die beweerde sewe ongelukke aangemeld is nie.
Motoriste word weereens deur Thabazimbi verkeersafdeling gemaan om by die spoedgrens te hou. Volgens DA-raadslid Franco Loots, sal daar by die portefeuljevergadering van 3 September strenger optredes teenoor oortreders bespreek word.
Volgens verkeerskonstabel, Jacky Mamome, word die volgende boetes aan oortreders opgelê: Indien jy nie jou flikkerlig gebruik wanneer jy draai nie – R500, indien jy in ‘n eenrigtingstraat opry – R1000, indien jy die verkeerde flikker aansit wanneer jy draai – R1000, indien jy in die aankomende baan ry – R1000, met ‘n selfoon in die hand of op die sitplek gestop word – R500, wanneer jy nie by ‘n stopteken doodstop nie – R300-R500 of onmiddellik arrestasie as jy oorry sonder om te stop, geen veiligheidsgordel – R200 per persoon, ligte af wanneer dit moet aan wees – R500 en ongelisensieerde voertuig – R500 (plakker moet geplak wees). Eienaars met voertuie wat gladde bande het se straf is, R250 per band en die verkeerskonstabel kan die voertuig van die pad haal, indien die bande binne 7 dae reg is, betaal jy niks, maar as dit nie reg is nie, moet die voertuig weer deur die toets gaan. Enige vorm van straatwedrenne – onmiddellike arrestasie. Rapporteer roekelose bestuur by die verkeer se noodnommer by 083 687 1883.
Die bestuurder van hierdie Mercedez Benz het na bewering die spoedgrens oortree en kon nie betyds sy draai maak nie. Foto: Anelie van Tonder.