CommunityTop Stories

R1500 boete vir motorfietsryers by 4×4-baan

THABAZIMBI – Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit het vandeesweek aangekondig dat hulle motorfiets- en vierwielmotorfietsryers ‘n boete van R1500 gaan oplê indien hulle by die 4×4-baan deur die verkeersafdeling afgetrek gaan word.

Dit volg nadat die 4×4-baan in uitbreiding 8, onder die loep gebring is weens die onwettige gebruik daarvan deur motorfiets- en vierwielmotorfietsryers.

Die park, Erf 1367, is in die verlede deur die, nou ontbinde, 4×4-klub gebruik om jaarliks die 4×4-item by die Wildfees aan te bied. Hierdie area is egter gesoneer as ‘n park en kon slegs per spesiale vergunning een maal per jaar as 4×4-baan dien.

Motorfiets- en vierwielmotorfietsryers maak die afgelope vyf jaar op ‘n daaglikse basis gebruik van hierdie stuk grond om met hul speelgoed rond te jaag, tot die buurt se frustrasie.

“Ons bly nou al die afgelope 18 jaar by ons huidige adres in Akasiastraat. Ons het egter nou die afgelope 5 jaar intense probleme met die persone wat daar met hul motorfietse kom ry. Die stof wat die mense maak met hulle motorfietse, hulle arrogante en aggressiewe houding, asook die lawaai wat dwarsdeur die week aangaan tot twee, drie uur in die oggende, selfs op Sondae, is net ‘n onaanvaarbare situasie.” Het een inwoner aan Kwêvoël gesê.

‘n Dokument is deur die inwoners opgestel en aan die mynbestuurder, me Cornelia Holtzhausen, gestuur om hulp te vra met die verwydering van die pawiljoene.

“Kumba het tydens daardie tyd, goedgunstiglik, twee staal pawiljoene geskenk aan die klub vir die gebruik tydens die jaarlikse fees. Die klub bestaan nie meer nie. Ons het met die stigter van die klub, mnr Stompie Pelzer, gepraat en hy het ons verseker dat dit nog Kumba eiendom is.” Hulle het in die skrywe gevra dat Kumba die pawiljoene aan ‘n skool sal skenk sodat die gebruik daarvan beter aangewend kan word.

“Die pawiljoene skep ‘n president dat daar wel nog so ‘n baan bestaan en die toeloop van twee- en vierwielmotorfietse in die residensiële gedeelte, is van so ‘n aard dat ons nou al die owerhede se hulp moet inroep. Ons ondervind ook dat daar deur die jong mense van ons dorp nou van die pawiljoene gebruik maak om dwelms te verkoop en net daar te sit en dit te gebruik.” Voorts het hulle die myn se hulp gevra om dié stuk grond te rehabiliteer en in ‘n park te omskep, waarvoor dit in die eerste plek gesoneer is. Hulle het ook gevra dat die walle weer plat gestoot word en die spruit oopgemaak word sodat ‘n blokkasie afgewend kan word wanneer die reënseisoen begin. Twintig inwoners van Akasia-, Blinkblaar, Jakaranda, Davodil en Vanderbijlstraat het die dokument onderteken.

Verskeie motorfietsryers het op Kwêvoël se facebookblad geskryf dat hulle enige tyd op ‘n ander plek sal gaan ry, maar daar is nie ‘n ander plek om heen te gaan nie.

Op navraag aan Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit oor die bou van ‘n baan vir die motorfietsryers, het hulle geantwoord dat die ontwikkeling van so ‘n baan finansieel nie haalbaar sal wees vir die munisipaliteit nie. Hulle het egter die publiek gemaan om nie die publieke paaie te gebruik vir hul motorfietswedrenne nie en gesê dat vierwielmotorfietse altyd met ‘n sleepwa of agterop ‘n bakkie na ‘n 4×4-baan aangery moet word.

“Hoekom koop jy ‘n motorfiets as jy nie eers weet waar jy kan gaan ry nie?” Het een van die vele moedelose inwoners aan Kwêvoël gesê.

Rapporteer roekelose bestuur by die verkeer se noodnommer, 083 687 1883.

Deur: Estie Taljaard, e-pos: estie@kwevoel.co.za

34-4x4

Die bord by die 4×4-baan in uitbreiding 8 wat waarsku dat dit onwettig is vir motorfietsryers om op die perseel te ry.