Pretloop by “Stormloop”
THABAZIMBI – Die NG Kerk beplan hul jaarlikse Koekepan Stormloop vir Saterdag 7 September, net nadat die winterkoue verby is en die swaeltjies weer huiswaarts keer.
Die Stormloop program skop af met ‘n heerlike pretdaf om 08:00 wanneer die son reeds hoog is, maar terwyl daar nog ‘n koel briesie waai. Twee afstande word aangebied, naamlik ‘n 5km vir die hele gesin en ‘n 10km vir die meer ervare drawwers. Inskrywings kan vanaf 07:30 gedoen word, skakel Maryke by 084 416 3584 vir meer inligting.
‘n Groot verskeidenheid vleissoorte en snitte asook tuisgebakte en handgemaakte items sal te koop aangebied word. Die dames by die koffiewinkel gaan oudergewoonte regstaan met heerlike gebak en vir dié wat ‘n vleiserigheidjie soek, sal daar beslis kerrie en rys, vetkoeke, hamburgers en worsbroodjies wees. En wat is ‘n heerlike kuier nou sonder pannekoeke, bazaarpoeding en lekkernye? Nog te ete is aartappel-op-‘n-stokkie, brood, beskuit, kleinkoekies, tert en groot koeke wees.
Om 11:00 is die veiling, waarby almal vry staan om ‘n aanbod te maak op ‘n groot verskeidenheid items, aan die beurt. Vir die jongspan sal daar hope kinderjolyt wees, onder meer die gewilde “dunk tank”, boog- en teikenskiet, kindertafel en nog vele kleuter-aktiwiteite. Daar is dan ook ‘n negosi-winkel met allerlei skatte te kies en te keur.
Die gemeenskap word hartlik uitgenooi om saam te kom kuier.