Gholfklub neem afskeid van ou lede

THABAZIMBI – Dit is met ‘n swaar gemoed dat Thabazimbi Gholfklub van twee lede, Piet en Alta Venter afskeid moet neem. Piet en Alta Venter emigreer Australië toe waar albei hul seuns reeds sedert 2007 woonagtig is. Die egpaar was vir bykans vyf en twintig jaar lank lid van Thabazimbi Gholfklub.

Piet is in 1949 in Pietersburg, vandag Polokwane, gebore en op ‘n ouderdom van ses maande  het sy ouers verhuis na Rhodesië, vandag Zimbabwe, waar hy sy skoolloopbaan begin en voltooi het en toe verder as passer en draaier gekwalifiseer het.

Alta is in 1951 in Noord-Rhodesië gebore, maar het in Suid-Rhodesië groot geword. Sy het haar hoërskoolloopbaan in die Republiek van Suid-Afrika voltooi en is na haar skoolopleiding terug Rhodesië toe waar sy vir Piet ontmoet het.

Hulle het in 1970 trou beloof aanmekaar en is in Gwelo getroud. Na die geboorte van hulle eerste seun, Pierre, in 1972, trek hulle na Ladysmith in Suid-Afrika, waar Piet by Dunlop werksaam was. In 1974 verhuis hulle  na Durnacol waar Piet hom by die Yskorgroep aansluit, in 1976 word hulle tweede seun, Eugene, te Newcastle gebore.

Op 3 Januarie 1986 verhuis hulle na Thabazimbi waar Piet by die span van Materiaalbestuur aansluit. In 1992 kwalifiseer hy as meganiese ingenieur en word aangestel as Assistent Resident Ingenieur by Donkerpoort totdat hy in 2000 pakket neem.  Daarna het Piet afgelos by Swartklip en Amandelbult as Ingenieur en as Inspekteur van Masjienerie te Pietersburg. Hulle was ook die trotse eienaars van Cillion Trading in Thabazimbi. Alta was vir 21 jaar by Eskom betrokke.

Nie net het Piet en Alta diep spore in hulle werk getrap nie, maar ook in dié sport. Albei Piet en Alta het lank op die Thabazimbi Gholfklub se komitee gedien en daar ook hulle gewig ingegooi. Die klub en gemeenskap se beste wense vergesel hulle daar ver na die vreemde.

33-Piet en Alta Gholfe