Geen regstelling vir jeug
Week 33 – 16 August 2013
Kommentaar deur die redakteur, Pieter Coetzee:
Regstellende-aksie in Suid-Afrika doen alles, behalwe dit wat reggestel moet word. Die ANC regering interpreter dit as regstellend om die wit mense uit hulle poste te werk en om soveel swart mense, ongeag kwalifikasie en bevoegdheid, in uitvoerende poste aan te stel. Dit neem nie ‘n enkele feit van die “Struggle”, naamlik die sogenaamde onderwysbeleid waarvoor mense tydens die Sharpville opstand gesterf het in aanmerking nie.
Jeugdag wat hierdie opstand gedenk, is een van die amptelike vakansiedae met hoë prioriteit ten opsigte van die onreg teenoor die swart jeug. Hier hoef mens net te kyk na die absolute chaos in die onderwysstelsel wat nou amptelik van die laagste van standaarde in Afrika is.
In plaas daarvan dat die regstellende aksie by skole en onderrig instellings begin het om die standaard van die jeug op te hef, is daarop gekonsentreer om wit werkers, veral wit mans, uit hulle posisies te lig en swart mense in dié poste aan te stel. Die wit bevolking maak maar 5% van die totale bevolking van Suid-Afrika uit en daar is geen manier hoe enige regstellende aksie tot voordeel van die land aangewend kan word met hierdie wanverhouding as uitgangspunt nie.
Geen poging is ooit aangewend om die swart jeug deur onderwys op te hef in terme van onderwys en opleiding om hulle voor te berei om die 95% van die poste op ‘n eervolle wyse te vul nie. Al wat gedoen word is om welsynstoelaes in te stel. Die werklike omvang daarvan word egter nie ondersoek nie. Vir die regerende party is dit genoeg om die reeds oorbevolkte wêreld ‘n hupstootjie te gee. Geen armoede word deur hierdie aksie verlig nie. Al wat dit doen is om die ontvangers daarvan toegang tot ‘n selfoon te bied.
Dit bring geen verligting aan die steeds groeiende werkloosheidsyfer onder die jeug nie. Daarby dra dit by dat die jeug die wyer groeiende basis van die bevolkingspiramiede uitmaak. Dit beteken teen die tyd dat hulle die middelklas van die bevolking moet vorm, sal dit ‘n ongeletterde en arm middelklas wees.
Die huidige middelklas het grootendeels sy ontstaan te danke aan regstellende aksie wat op alle vlakke van die samelewing toegepas is sonder dat prestasie enigsins ‘n rol daarin gespeel het.
Ons het te doen met ‘n selfverrykende middelklas wat langsaam gaan verarm as gevolg van ‘n kwynende ekonomie. Hierdie groep sal nooit die opkomende geslagte se welsyntoelaes kan betaal nie.
Dit gaan aanleiding gee tot grootskaalse ongelukkigheid en anargie deur mense wat nie die voordeel van die groot belastingkoek, wat aan simpatieke partyondersteuners uitgedeel is, ervaar nie. Die rede? Hierdie koek kan nie vir ewig hou sonder dat die ekonomie nie ook opgebou word nie.
Sorg vir ‘n bekwame jeug voordat die koek heeltemaal opgeëet word.