Community

Boeremusiek is hier om te bly

LEEUPOORT – Net toe die doemprofete sê dat Boeremusiek se dae getel is omdat die jeug nie meer belangstel daarin nie, verskyn daar ‘n blink nuwe ster aan die Boeremusiek-hemel.  Hierdie ster is die 5-jarige Kosie Beukes.

Kosie is slegs 5 jaar oud en het die afgelope vyf maande ontpop as ‘n musikant wat baie gesoute musikante se oë laat rek.  Nie alleen het hy die konsertina binne ‘n paar dae bemeester nie maar speel ook kitaar, banjo, trekklavier en klavier.

Hierdie klein wonderkind tree op 31 Augustus tydens die jaarlikse Boeremusiekfees te Leeupoort Vakansiedorp op.  U is welkom om uself te kan oortuig dat hierdie vrystelling nie maar net ‘n foefie is nie maar die werklikheid.

Behalwe Kosie gaan daar heelwat jong musikante wees.  Dillen Emsly, die voormalige konsertinaspeler van die Penkoppe, en Christo Wolmarans van Kemptonpark bring nie minder nie as drie jeugorkeste saam nl die Klitsgrassies, die Haak-en-steek Orkes en die gewilde Warmvatters.  Thabazimbi se eie 18-jarige Herman Meyer gaan met sy eie orkes optree.

Behalwe bogenoemde is daar nog 15 ander orkeste met baie bekende musikante.

Die baie bekende komediant en musikant, Jammies Jamneck, voltooi die heerlike dag van luister en ontspan.

Soos gewoonlik gaan daar ook baie te ete en te drinke wees.

Vir meer besonderhede skakel Pieter Bodenstein by 082 410 1655

33-Boeremusiek Kosie

Die 5-jarige Kosie Beukes gaan sy musiektalent tydens die jaarlikse Boeremusiekfees te Leeupoort Vakansiedorp ten toon stel.