Apiesdoring karnaval groter as 2012
THABAZIMBI – Nóg meer stalletjies, nóg meer voete, nóg meer pret as die vorige jare se karnaval. Die gemeentelede van die Hervormde Kerk het weereens daarin geslaag om op hul vorige pogings te bou en selfs op hul besonderse “kerkbasaar” wat Saterdag 3 Augustus aangebied is, te verbeter.
Na beraming was hier derduisende mense wat die karnaval bygewoon het. Inwoners het gestroom na dié jaarlikse instelling, maar talle het ook van sover as Pretoria, Secunda, Kathu en selfs Kimberley gery om hul deel van die goedkoop vleis op te eis en hul voorraad van die bekende boerseep aan te vul.
Volgens die organiseerders was die dieregeluid namaakkompetisie wéér groot pret. Die wenner was ons eie plaaslike Roelof von Weilligh.
Die tonne vleis en biltong wat die gemeentelede vooraf moes verwerk het, is alles uitverkoop. Die sangers Adam Tas en Robbie Wessels het, na wat berig word, die optrede geweldig geniet en het hul verbasing uitgespreek oor die groot fees in Thabazimbi.
Spitskop Skool vir spesiale behoeftes het meer as R6000 ingesamel met besoekers wat donasies gemaak het by Seun, die uitsonderlike bees van Jan Smit. Die wenner van die buffeljagpakket was Japie Combrinck, ‘n boer van Koedoeskop en die veiling was groot pret – dis nie aldag dat ‘n gehekelde tafeldoek R9000 op ‘n veiling behaal nie…
Die Hervormers bedank graag die hele gemeenskap vir hulle ondersteuning en ook vir diegene wat skenkings gemaak en saamgewerk het. “Aan die Here alle eer vir die groot sukses.” Het Dominee Hennie van der Linde aan Kwêvoël gesê. Hulle sien reeds uit na volgende jaar se karnaval.
Ethan Smith saam met sy held, Robbie Wessels.