Editorial

Waar is die “sepie-hospitale”?

Week 31 – 2 August 2013

Kommentaar deur die redakteur, Pieter Coetzee:

 

Na vyf dae in ‘n privaathospitaal in Rustenburg, twee maande daarna op die mank-krukkelys en nog steeds aan die herstel na al die gekerf aan die lyf, kyk mens met nuwe oë na hospitale en dit wat daar binne gebeur.

Geen hospitaalondervinding is lekker nie. Dit is nie lekker om met ‘n drup in elke arm, ‘n dreineringsbuis wat uit jou buik kom, ‘n buis wat uit jou neus uitkom en boonop alles ‘n kateter en baie wonde aan jou seer lyf, by te kom na ‘n operasie nie. Tog is dit die realiteit wat jy moet aanvaar met die vooruitsig vir beter lewensverwagtinge. Maar om so te lê en veral te probeer opstaan, wat jy eenvoudig moet doen, vereis heelwat truuks.

In die vyf dae met die gerief van ‘n morfienpompie daarby, ervaar jy baie dinge. Hieronder is ongemak en pyn seker bo-aan die lys.

Met al die naalde en pype wat selfs die kleinste beweging knie-halter, sien jy nie eens kans om self eens ‘n tydskrif deur te blaai nie. Jou oë volg maar die beeld op die TV bokant jou bed. Aangesien die luukse van ‘n enkelkamer deesdae blykbaar vir die moeilikste pasiënt gereserveer word, wil jy ook maar nie die klank te hard sit, sodat jy nie die ander siekes pla nie. In my geval saam met die ander mans in dieselfde kamer, was dit ‘n man wat heeltyd regop in sy bed gesit het en nie die pan wat verskaf is, wou gebruik om in op te gooi nie, maar die saalvloer eerder bemors het. Na baie vertoë deur al die pasiënte in die saal, is hy toe na ‘n enkelkamer verskuif.

Ongelukkig is slaap mens ook nie eintlik beskore nie. Indien die saalligte uiteindelik verdof word, word daar slegs rondtes gedoen om medisyne uit te deel. Vergeet maar van die dokter se voorskrifte dat daar vier-uurlikse monitering gedoen moet word. Dit wil al so lyk asof die verpleegpersoneel stokdoof is as dit kom by die gepiep van masjiene wat roep om aandag.

Die pasiënt wat daaraan gekoppel is moet maar wag totdat iemand uiteindelik besluit om op hierdie koor van piepende masjiene te reageer en ondersoek in te stel. ‘n Tekort aan gekwalifiseerde personeel is duidelik waarneembaar, veral as die stafverpleegster so sukkel om ‘n aar te kry vir die naald wat die drup moet bedien. Vroeër jare mag net ‘n Suster hierdie naalde in jou are druk.

Met ander woorde: Moet nie ‘n “TV- sepie” opset verwag as jy in die hospitaal opgeneem word nie. Die standaard van verpleging, selfs in privaathospitale wat vroeër jare hoog aangeskryf is, het in baie hospitale gedaal.

Gelukkig het ek nie nodig gehad om my eie beddegoed saam te neem nie, maar ongelukkig pas die “pas-lakens” nie so mooi op al die beddens nie. Vergeet ook maar van iets soos ‘n handdoek. As jy nie jou eie saamgevat het nie, is daar ook nie een vir jou beskikbaar nie.

Tog moet mens wel dankie sê vir die paar goed opgeleide personeel wat steeds toegewyd is aan hulle werk en dit nie maar net sien as nog ‘n “job” nie. Betaal hulle vir wat hulle werd is, sodat hulle nie dubbelskofte of twee skofte daagliks in twee verskillende hospitale hoef te werk nie.