Dewald Potgieter by Karnaval
THABAZIMBI – Die Hervormers hou eerskomende Saterdag, 3 Augustus hul 6de Apiesdoring karnaval by die Hervormde Kerkterrein.
Die verkoping van vleis en biltong begin stiptelik 8:00, net na die amptelike opening. Vir diegene wat al van baie vroeg af voor in die ry wil plek inneem, sal daar koffie en beskuit te koop wees. Die pap en kaiings of pap en wildslewer ontbyte sal egter eers van 8:00 te koop wees.
Die gewilde kunstenaar, Adam Tas, se optrede begin om 10:00.
Die veiling vind plaas vanaf omstreeks 12:00. En aangesien alle kaartjies vir die buffeljagpakket uitverkoop is, het die organiseerders besluit om kaartjie nommer 23 op die veiling aan te bied. Meesterlik handgemaakte artikels soos ‘n trousseaukis van Rooshout, ‘n riempiesbank van Sleeper-hout en ‘n wastafel van Olienhout sal ook op die veiling aangebied word.
Na die veiling, enige iets na 13:00, sal Robbie Wessels besoekers met sy lawwe- en tranetrekkerliedjies vermaak. Trekking van die wenners van die kompetisies sal na sy optrede volg.
‘n Sweepvleg demonstrasie en ‘n voorlaaier skietdemonstrasie sal ook gehou word. Nog redes om daar te wees is lekkernye soos roosterkoeke, vars gebakte brood uit die bakoond, potbrood, nat beskuit en koeke en nageregte in die Kanaän-oorvloed. Vir die kinders is daar ‘n boomklimkompetisie, visvang-om-die dam-kompetisie, ‘n reuse tombola, spookhuis, laser kleiduifskiet, lekkergoedstal, ‘n lewende hawe stalletjie en nog vele meer.
Die okkasie vind plaas by die Hervormde kerk net buite Thabazimbi – op die pad.