Editorial

Verval van die gesinslewe

Week 30 – 26 July 2013

Kommentaar deur redakteur, Pieter Coetzee:

 

Suid-Afrika se gesinne, ongeag ras, is drasties aan die agteruitgaan. Dit is egter nie vanweë die verswakkende moraliteit en die pienk agenda, soos deur die kerklikes verkondig word nie, maar eenvoudig deur verarming. Verarming as gevolg van werkloosheid. Elma Kloppers berig in Sake24 Woensdag 24 Julie dat vir elke vier werksgeleenthede wat geskep word is daar twaalf wat verlore gaan.

Met die swaard wat bokant huishoudings hang as gevolg van slepende onrus aangestook deur vakbonde met hul onrealistiese eise vir sallarisverhogings, veral in die mynsektor, gaan die aantal verarmde huishoudings beslis ‘n bydraende faktor wees tot die frustrasie oor die finansiële omstandighede van die landsburgers. Die drygende golf van arbeidsonrus, geweldadige stakings en opstande sal die tsunami wees wat oor die land gaan spoel as die regering nie daadwerklike pogings aanwend om die vakbonde vas te vat en die private sektor beter te betrek met belastingsverligtingsinisiatiewe om sy leidende rol in werkskepping te verwesenlik nie.

Volgens Rodney Hesketh-Mare, wat die Thabazimbi Sakekamer verlede week toegespreek het, is die grootste werkskeppers in die ontwikkelde lande juis die kleinsakesektor en entrepreneurs. In lande soos Japan bestaan die gemiddelde besigheid uit vier werkers. Dit sluit in die duisende werkers wat deur die groot maatskappye in diens geneem word.

Ongelukkig is daar geen plek in die Suid-Afrikaanse opset vir veral die wit entrepreneur of kleinsakeman nie. Hierdie besighede is hoofsaaklik, alhoewel hulle vir SEB (Swart Ekonomies Bemagtigingsbeleid) geregistreer is, uitgesluit van die harde werklikheid van die mislukte SEB-beleid van die ANC regering. Die enigste mense wat hieruit voordeel getrek het is die talle sogenaamde swart agtergeblewendes wat met hul politieke affiliasies en vriende bevoordeel is deur dinge soos tenderpreneurskap en korrupsie in die regering en plaaslike owerhede. Die statistieke is beskikbaar oor hoeveel vervaardigers reeds gedwing was om hul deure te sluit as gevolg van SEB.

Die regering het tog uitgevind hoe hy sy houvas op hierdie entrepreneur-besighede kan kry.

Die privaat entrepreneur gaan gebuk onder swaar belastings want hy kan nie in ‘n plakkershut gaan wegkruip nie. Ook kan hy nie onder ‘n vals verblyfpermit werk nie want hy is reeds ‘n belastingbetalende, gebore Suid-Afrikaanse burger wat trots is op sy herkoms en boonop oor ‘n vaste opspoorbare woonadres beskik.

Dit is nie die Chinees wat nie eens Engels kan praat nie of die Pakistani wat handeldryf met goedkoop ingevoerde goedere en wat tien teen een nie eens vir belastingsdoeleindes geregistreer is nie, wat vasgevat word nie. In teendeel, dit blyk asof hierdie vreemdes aangemoedig word om in groot getalle die platteland en townships te kolonialiseer.  Aangesien hulle besighede kontantbedrywe is, is daar ook geen houvas wat die belastinggaarder op hulle besigheid het nie.

Ongelukkig eet die meeste banke uit die hand van die ANC regering en sal dit uiteindelik dalk net die groot SEB besighede wees wat die kwaai beperkings wat op die entrepreneur-werkskepper deur banke deurgevoer word, gaan vryspring. Daarby gee die ANC Regering  R900 milj aan ‘n familielid van Zuma om die geld te mors op ‘n nie-Regeringsinstansie wat ‘n projek daarmee moet bedryf om die kosmandjies van die land aan te vul. Dit met Suid-Afrika wat oor die beste boerderye beskik maar voosgedruk word deur insetkostes en die in- en uitvoerbeleid op voedselprodukte. Om nie eens te praat van minimumlone nie.

Die gevolg? Nog meer werkloosheid en algehele bankrotskap van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Dan begin ons maar weer van voor af nadat al die rotte in hul kos gestik het.