Rol van Sakekamer uitgelig by netwerkbyeenkoms
THABAZIMBI – Die rol van die sakekamer in die gemeenskap is tydens die onlangse netwerkbyeenkoms van die Thabazimbi Sakekamer duidelik uitgestip deur die daarstelling van besigheidsprioriteite om ‘n stabiele gemeenskap daar te stel. Dit sluit in om die plaaslike munisipale bestuur op hul tone te hou in terme van die uitvoering van hul pligte en te verseker dat die gemeenskap wel die diens ontvang waarvoor hul betaal.
Die prioriteite sluit ondermeer in:
Toerisme:- Die ontsluiting van die toerismepotensiaal tot voordeel van die gebied en al die besighede wat hierby betrokke is.
Werkskepping:- Om alle moontlikhede te ondersoek om werk te skep vir plaaslike inwoners in ontluikende industrië soos toerisme hierbo gemeld.
Opleiding:- Geen werk kan geskep word vir enigeen wat nie opgelei is om ‘n sekere taak te kan verrig nie. Die benutting van die toerismepotensiaal soos hierbo genoem, bied geleentheid vir verskeie tipes van werkgeleenthede waarvoor opleiding plaaslik verskaf kan word.
Entrepreneurskap:- Saam met hierdie opleiding kan vaardighede ontwikkel word wat voornemende entrepreneurs tot hulp sal wees indien hulle sou besluit om ‘n besigheid van hul eie aan te pak. Hier kan maar net verwys word na die talle vaardighede wat reeds deur instansies soos Kumba se Itelereng Sentrum in handvaardighede gebied word.
Projek Northam:- Groot groei word voorspel met die toekoms van Northam maar steeds suig hierdie dorpie aan die plaaslike owerheid se agterspeen in terme van volhoubare vestiging van infrastruktuur. Hier hoef maar net gekyk te word na die voortslepende rioolprobleem wat die dorp ondervind.
Sakekamer volhoubaarheid:- Vir die groot taak as rolspeler om die plaaslike owerheid by te staan in terme van deeglike beplanning en die verskaffing van vaardighede, moet die plaaslike sakekamer volhoubaar wees met pro-aktiewe deelname van al sy lede. Lede moet doelgerig hul insette lewer en nie net terugsit en kritiek lewer op pogings wat wel aangewend word nie.
Tydens die byeenkoms is daar ook netwerkgeleentheid gebied om die Thabazimbi Krisisbeheer van naderby te leer ken. Twee broers, Henk en Jaco Havenga is nou hierby betrokke en het dit uitgelig as ‘n effektiewe manier om diens aan die gemeenskap te lewer in noodsituasies, soos brande, oorstromings en tereur-aanvalle.
Dit word gedoen in samewerking met die plaaslike munisipaliteit, die verskeie ambulansdienste, polisie, myne, verkeer, helikopter bystand, vee- en wilddiefstal eenhede en die sakekamer. Onder een sambreel kan hierdie diens meer effektief en met ‘n vinniger reaksietyd verrig word.
Die selfgemaakte biljoenêr, Rodney Hesketh-Mare, het ook vir ‘n baie interessante praatjie “Die lewe van ‘n Entrepreneur” gesorg. Hesketh-Mare was die dryfveer agter die bekende koffieverromer “Cremora” (It’s not inside – It’s on top!) en die groei daarvan tot beste verkoper.
Die geleentheid, wat by die lapa van Hoërskool Frikkie Meyer aangebied is, is die aand met ‘n heerlike potjiekosete en gesellige kuier afgesluit.
Vir meer inligting oor hoe om ook deel van die Thabazimbi Sakekamer te word, kontak vir Riana (072 671 9710) of Estie (082 328 4586).
Die voorsitter van die Thabazimbi Sakekamer, Jacques Blaauw, links, saam met Henk Havenga, middel, van Thabazimbi Krisisbeheer en Rodney Hesketh-Mare wat sakekamerlede meer oor “Die lewe van ‘n Entrepreneur” vertel het.