Kuiermark slypskool inspireer entrepreneurs
THABAZIMBI – Lekker kuier, lekker werk, lekker mark is die drie beginsels vasgevang in ‘n slypskool wat daarop gemik was om bemarkers te inspireer en om deel te hê aan die maandelikse Kuiermark in Thabazimbi en hulle kreatiwiteit in randwaarde om te sit.
Die inisiatief vir die slypskool is deur Nicolette Coetzee geneem en is op Woensdag, 17 Julie deur Johan Muller van BeCause Coaching aangebied.
Die doel van die slypskool was om voornemende en bestaande entrepreneurs riglyne te bied en te adviseer oor produkbemarking, vasstelling van pryse, verpakking, stalletjie-uitleg en verkope.
‘n Positiewe gees het onder die teenwoordigers geheers en almal was opgewonde om die nuut gevonde kennis toe te pas. ‘n Reeks slypskole wat entrepreneurs gaan help om eie besighede te vestig en bestaande besighede meer suksesvol te maak, word in die vooruitsig gestel.
Hierdie inisiatief is in lyn met die doelstellings van die Thabazimbi Sakekamer se beleid om bestaande besigheid uit te brei en nuwe besigheid in die Thabazimbi omgewing te bevorder. Bestaande en toekomstige besigheidseienaars kan kontak maak met Johan Muller.
Johan Muller van BeCause Coaching aan die woord by die Kuiermark slypskool.