It”s not inside – It’s on top! – Die storie van ‘n entrepreneur
THABAZIMBI – Tydens die netwerkbyeenkoms van die Thabazimbi Sakekamer het die selfgemaakte miljoenêr, Rodney Hesketh-Mare, meer oor sy lewe as entrepreneur uitgewei.
Soos Rodney self vertel is hy gebore in LA (Lower Alberton) en het daar groot geword.
Skool was nooit sy sterk punt nie maar hy het ‘n ongekende begeerte gehad om besigheid te bedryf.
Die gevolg was dat hy nooit sy skoolloopbaan voltooi het nie en besef het dat ‘n graad of tersiëre opleiding nie noodwendig nodig is om sukses in die besigheidswêreld te bereik nie.
Weens sy, soos die destydse NP regering dit beskryf het, “Kommunistiese verhouding” met die dogter van die anti-apartheids aktivis, Bram Fischer, het Rodney die land verlaat en hom in Engeland en later in Duitsland gaan vestig. Hy glo daarin dat net jy dinge kan laat gebeur. Dit waarvoor jy aspireer kan bereik word. Streef dus na meer as die mense en gebeure waaroor gewone mense praat.
Hy keer in die vroeë sewentiger jare terug na Suid-Afrika want, soos hyself sê, hy hou nie van die land nie, hy is uiters lief vir die land.
Hy het ook daarop gewys dat jy as entrepreneur op jou eie besigheid moet konsentreer en nie jou aandag daarvan laat aflei deur korrupsie in die groot firma’s nie. Dit wat tans besig is om nou in Suid-Afrika te gebeur sal uiteindelik oorwaai. Daar is geen rede om nou op vlug te slaan nie, sake kan net verbeter.
Sy betrokkenheid met Cremora het pas nadat hy teruggekeer het na Suid-Afrika begin toe hy tydens ‘n besoek aan Namaqualand aan die Weskus by ‘n ou tannie koffie gedrink het. Sy het hierdie eienaardige wit poeiertjie voorgesit wat die koffie daardie ekstra romerigheid en wit voorkoms gegee het.
Die verhaal van dié gewilde koffie-verromer, Cremora is sedert 1974 welbekend met Jan Spies wat in die advertensies* verwys het na hoe dit hom na die plaas se romerige koffie laat verlang het, en die bekende een van die man wat na die Cremora in die yskas soek en sy vrou wat vir hom skreeu: “It’s not inside . . . it’s on top.”
Volgens Rodney was hulle wins die eerste jaar sowat R360 000. Vier jaar daarna was dit reeds R4 miljoen en hulle het met hulle hande in die hare gesit en nie geweet wat om met al die geld te maak nie.
Die volgende uitweg was om ‘n farmaseutiese firma te koop waar pille per pos uitgestuur is. Die voorskrifte het ingesluit enigiets van pille om cholesterol te beheer tot opkikkers vir die manlike libido’s. Die besigheid het hy in sy totaliteit verkoop sonder dat hy aandeel daarin behou het. Vir hom was dit ‘n saak van om ‘n skoon breuk te maak met dit wat vir jou suksesvol was en van nuuts af weer te begin. Deesdae is hy ‘n toegewyde natuurfotograaf en spandeer hy die meeste tyd agter sy kamera se lens in een of ander natuurreservaat.
Benut alle opleidingsgeleenthede wat jy kan kry en maak werk van alle moontlike geleenthede wat hier bestaan aangesien entrepreneurskap die voorland vir oorlewing in Suid-Afrika is. Dit is nie noodwendig ‘n negatiewe begrip nie maar kan ‘n oneindige hoeveelheid werkgeleenthede hierdeur geskep word. Hy het ook daarop gewys dat in Japan, met firma’s soos Toyota en ander groot name, die gemiddelde firma uit vier werknemers bestaan. Dit wys op die ontsaglike invloed wat die klein sakesektor speel as werkskepper vir die massas.
Gee die leiding aan in plaas daarvan as om net in die spore van die suksesverhale van ander te volg. Nie net verdeel jy die mark nie maar staan jy ‘n goeie kans om self onder te gaan. Gebruik jou omgewing en doen jou eie navorsing. Moenie afgesit word oor dit wat die “meeste mense” sê nie – dit is gewoonlik negatief.
Maak iets wat “gemiddeld” is beter. Net soos die sigorei in koffie die smaak van die gewone kitskoffie verbeter het, so is daar dalk ‘n manier waarvan jy weet om ‘n bestaande produk te verbeter en dit jou eie te maak.
Hy het ook die sakekamerlede daarop gewys dat hulle baie wyer as net die Thabazimbi se onmiddellike omgewing as afsetgebied moet kyk. Met die moderne kommunikasiegeriewe soos internet en koeriers wat regoor die land goedere binne bykans 24 uur kan lewer, is dit nie nodig om net op die plaaslike gemeenskap staat te maak as afsetgebied nie. Verbreed jou visie en moenie dat tonnelvisie jou onderkry nie. Brei jou sakebelange uit so wyd as wat jy beheer daaroor het.
Sover dit die finansiering van jou besigheid aan betref het Rodney lede aangeraai om eerder sover as moontlik van besigheidslenings af weg te bly en eerder staat te maak op eie finansiering. Al moet jy iets kosbaars verkoop om jou lewensvatbare onderneming op te bou is dit steeds beter as om geld te gaan leen. Dit is daarom noodsaaklik dat mens vroeg genoeg, lank voordat jy ‘n besigheid wil begin, spaarfondse en ander beleggingsmoontlikhede moet oorweeg. Sorg ook dat jy vroeg genoeg die dienste van ‘n prokureur wat sy sout werd is bekom. Jy gaan dit beslis een of ander tyd in jou besigheidsloopbaan nodig kry. Onthou ook dat besigheid geen politieke, rassistiese of geloofoortuigings voordele het nie.
Hy het dit ook beklemtoon dat jy die beste mense vir die spesifieke taak moet aanstel, delegeer en hulle genoegsaam op te lei dat jy op die besigheidsaspek kan konsentreer terwyl jou werkers die werk doen.
Nog iets wat hy beklemtoon het is om nie met die ontvanger te baklei nie. Kry hom eerder aan jou kant sodat as jy ‘n probleem met jou inkomstebelasting ondervind, jy nie skaam gaan wees om hom te nader nie. Dit is die beste manier om ‘n oplossing vir jou probleem te kry.
*Advertensie op Youtube by: www.youtube.com/watch?v=QWjfkbNCX4c