Sake-egpaar verlaat Thaba
THABAZIMBI – “Nie die stof en die hitte nie, maar wel die mense…” Dít is wat Annetjie Jardim Gouws die meeste van die bosveld gaan mis.
Sy en haar man, Collin sien uit na ‘n nuwe fase in hul lewe wanneer hul aan die einde van Julie na Hermanus verhuis om hul vroeë aftrede te geniet. Collin en Annetjie beplan om hul passie vir die kunste uit te leef. Annetjie gaan die pen opneem en weer dig soos sy in haar twintigerjare gedoen het, asook haar liefde vir skilder uitleef. Alhoewel sy nie daarop uitgaan om beroemd te raak nie, kan sy nie daarvoor help as dit gebeur nie, het sy tong in die kies gesê.
Annetjie, ‘n welbekende sakevrou en entrepreneur, sal veral onthou word as die vrou agter Avon, vanweë haar 18 jaar betrokkenheid, onder meer as areabestuurder van dié kosmetiek-reus. As entrepreneur het sy verskeie suksesvolle besighede op die been gebring en het Ma gestaan vir Glitterz, oftewel Die Klerekas met ‘n Annetjie-flair. Sy het ook ‘n hoenderwinkel gehad wat as afset gedien het vir haar eie vrylopende hoenders.
Haar sprankelende persoonlikheid het gelei tot haar betrokkenheid by die RiVo Toneelgroep waar sy verskeie rolle gespeel het in van die plaaslike produksies.
Collin is bekend vir sy besighede “the Tax Shop” en “Precom business service”. Hy het haar ondersteun in al haar projekte en so ook haar passie vir toneel, soveel so dat hy in twee rolle op die planke te siene was.
Annetjie het ook haar merk by Kwêvoël se Vroueblad gemaak deur heelwat mooimaaksessies op plaaslike dames uit te voer. Die transformasies was asemrowend. Haar kennis van skoonheidsorg het haar ‘n tydgleuf by die plaaslike radiostasie, vir haar eie skoonheidspraatjie, besorg.
Sy beskryf haar 13 jaar in Thabazimbi as ‘n vreugdelike onthoutyd. Collin het ook sy deel van vriendskappe in die vyf jaar wat hy in Thaba is, gesmee.
Sy wil graag van die geleentheid gebruik maak om al haar sakekennisse, kennisse en vriende totsiens te sê en te bedank vir dit wat hulle tot haar lewe toegevoeg het. Sy het ook genoem dat haar telefoonnommer onveranderd sal bly…
Collin en Annetjie Gouws verruil die bosveld vir ‘n lieflike see-uitsig woning in Hermanus.
Annetjie saam met van haar kosbare vriendinne by ‘n afskeidsgeleentheid, voor vlnr: Anelie, Annetjie en Cathy. Agter vlnr: Angie, Hester, Rita, Ellen, Marietjie en Marina.