Community

Thabazimbi-stortingsterrein ‘n gemors – AfriForum

THABAZIMBI – AfriForum het ‘n beroep op die Thabazimbi Munisipaliteit gedoen om die plaaslike stortingsterrein op te knap. Dit volg ná klagtes van die plaaslike gemeenskap ontvang is oor moontlike gesondheids- en omgewingsrisiko’s wat die terrein inhou.

Volgens Johan Barkenhuizen, voorsitter van die Thabazimbi-tak van AfriForum, hou die stortingsterrein risiko’s in. “Daar is verskeie faktore wat verband hou met besoedeling en gesondheidskwessies wat ons verontrus,” het Barkenhuizen gesê.

AfriForum se organiseerder vir Limpopo, Morné Mostert, sê dat die toestand van die terrein op wanbestuur dui. “Dit is bloot uit hoe die plek lyk duidelik dat die terrein nie behoorlik bestuur word nie. Rommel lê oral rond pleks daarvan dat dit met grond bedek word.”

“Ons is ernstig oor afvalbestuur en dit lyk asof hierdie kwessie dwarsoor die provinsie verwaarloos word. Ons munisipaliteite moet verantwoordelikheid neem om ‘n veilige en gesonde omgewing vir alle Suid-Afrikaners te skep. Indien hulle nie aan wetgewing voldoen nie, sal AfriForum gedwing word om regstappe teen die verantwoordelike persone te doen,” het Mostert bygevoeg.

“Die Grondwet van Suid-Afrika bepaal dat almal ‘n reg het op ‘n omgewing wat nie hulle gesondheid of welsyn bedreig nie. Omgewingsbesoedeling en bedreiging van mense se gesondheid is ‘n misdryf. Ons het die munisipaliteit tot Woensdag, 3 Julie 2013 gegee om die burgerregte-organisasie van ‘n omvattende aksieplan te voorsien om die situasie reg te stel,” sê Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum.

AfriForum sal die situasie monitor en kriminele klagte lê indien dit nie verbeter nie.

Om by jou AfriForum-tak aan te sluit, SMS “Thabazimbi” na 31336. SMS’e kos 50c. Skakel Johan Barkenhuizen, voorsitter Afriforum Thabazimbi-tak by 083 320 7229.