Community

Thaba veg nogsteeds teen dwelms

THABAZIMBI – Vroeg Vrydagoggend 28 Junie, is Thaba se strate begroet met die klank van vrolike musiek. Party mense het selfs uitgegaan om te sien wat die bohaai so vroeg in die oggend veroorsaak.

Dit was ‘Thaba teen Dwelms’ en heelwat besorgde inwoners van Thabazimbi en omgewing wat ‘n poging aangewend het om die inwoners bewus te maak van gedeeltes waar daar, volgens betroubare bronne, wel met dwelms handel gedryf word.

“Dis verontroerend om te dink dat daar in Thabazimbi sulke praktyke is. Wat nog hartseerder is, is om te sien hoe daar dogters en seuns saam met volwassenes in ‘n geïdentifiseerde motor klim om met hul lyfies te gaan betaal vir iets wat hulle “nodig” het.” Het ‘Thaba teen Dwelms’ se woordvoerder aan Kwêvoël gesê.

“Dis belangrik dat ons, die huidige baanbrekers van ons kinders se toekoms, die onskuld en vryheid wat met ‘n plattelandse dorpie geassosieer word, probeer behou. Waardes en norme word tog deur ons as ouers se gedrag en optrede oorgedra na die jonger geslag.” Het hulle gesê.

Daarom het hul gevoel dis belangrik dat hulle die gemeenskap moet bewus maak van die “onheilighede” wat in die dorpie aan die gang is. Dit is as sulks ‘n poging om die jonger geslag uit hierdie “ysterkake” te bevry. “Die tyd vir blinde oog gooi en skouer optrek is verby! Iemand moet die leisels begin opneem en die ander moet volg. Mense dis soos oorlog – geen maklike taak. Dit gaan oor ons toekoms.”

Volgens die woordvoerder is daar baie kritiek gelewer oor die “skoonmaakprojek”. Hulle erken dat dit is soos om met vuur te speel, maar hulle het dit eens “ons speel nie”. Met hierdie onkonvensionele poging het hulle egter groot reaksie uitgelok. Inwoners is meer bewus van wat om hul aangaan en die persone wat handeldryf het ook besef dat die strop om hul nek nou bietjie stywer getrek is. “Dis lekker om te hoor dat die verskaffers “gerattle” is. Hulle besef nou ons weet waar hulle bly. Dis nie nou net die Thabazimbi SAPD wat betrokke is nie, dit is nou groter as net hier.”

‘Thaba teen dwelms’ is tans met samesprekings teenoor een van die myngroepe besig sodat daar ‘n gesamentlike poging vir die bewusmaking van dwelms aangewend kan word.

Enigeen wat hulp nodig het word genooi om by hierdie dwelmondersteuningsgroep in te skakel. Kontak hulle by thabateendwelms@gmail.com, waar als streng konfidensieel gehou word.

27-Dwelms 3

‘Thaba teen dwelms’, besorgde inwoners van Thaba tesame met gemeenskapspolisiëringsforum, het op Vrydagoggend kennisgewingborde waar dwelmhandel plaasvind, aangebring.