Rhinos pleeg kuikenmoord in Waterberg rugby finale
SETARIA – Die Rhinos het hulle nou bewys as die beste rugbyklub in die Waterberg rugby deur weereens as die kampioene gekroon te word toe hulle eerste- en tweedespanne Vrydagaand op hulle tuisveld met Nylstroom en Phagamen onderskeidelik afgereken het.
Die eerste span wedstryd was alles behalwe ‘n eensydige affere want Nylstroom het met hulle macro-agttal die eerste helfte die Rhinos harde bene laat kou. Soos dit van ‘n kampioenspan verwag word het hulle vasgeklou en met briljante spel diep in die tweede helfte die Nylstroom manne deurmekaar gehardloop en ‘n paar skitterende drieë aangeteken.
Die Rhinos is nou die vierde keer in 5 jaar die kampioene wat duidelik wys waar die Waterberg se rugby krag tans lê.
Alhoewel die Nylstromers voorlangs redelik oorheers het kon die Rhinos al in die eerste helfte redelik ver voorgeloop het as hulle net die bal laat loop het soos in die tweede helfte. Die eerste helfte met lemoentyd, het die Rhinos met 9 – 3 voorgeloop.
Net na rustyd het die Nylstromers die Rhinos goed geskok toe hulle vinnig twee drieë gedruk het en skielik met 15 – 9 voorgeloop het.
‘n Paar name wat uitgesonder kan word is die impak spelers want toe die vars bene van Mark Humphries en Warren(yster) op die veld verskyn toe is daar skielik lewe wat die wedstryd gedraai het.
Die Loskakel Rudi Marx se voet het die bal gereeld mooi getref en die Nylstromers ver teruggestuur. Rhinos se verdediging was uitsonderlik en die agterspelers se spoed en vaardighede skitterend. Die Rhinos wen die wedstryd met 45 – 15.
Puntemakers aan die Rhinos se kant met drieë was Rudi Marx, Notis Notisi, Joon Matjiet en Warren(yster)(2). Patrick Hattingh slaag met 3 doele en 3 strafskoppe en die kaptein Flippie Smit met ‘n doelskop.
Die tweede span het met dié wedstryd die liga vir die vyfde keer agtereenvolgens gewen. ‘n Uitsonderlike prestasie op sig self en was die afgelope ses jaar onoorwonne in ‘n eidstryd. Die enigste uitsondering was in 2008 toe hulle gelykop saam met Thabazimbi geëndig het.
Die wedstryd teen Phagamen van Nylstroom was van meet af ‘n eensydige besigheid. Dit was net ‘n kwessie van hoe ver die Rhinos gaan wen. Phagamen het moedig probeer maar heelaas, dit was te min en die Rhinos wen die wedstryd 55 teen 0.
Die hele span het soos een groot ster gespeel maar uitblinkers wat vermelding verdien was Botha du Plessis en die Kaptein Andrew Burger asook die baie lewendige skrumskakel Arthur van Wyk en die senter paar Wheelan Fortuin en Bongi. Die punte makers aan die Rhinos se kant was drieë: Botha du Plessis (2), CJ(2) en een elk deur Wheelan Fortuin, Johan Schlebush, Eric Mdyogolo, Arno Smit en Bongi. Arthur van Wyk slaag met 4 doelskoppe.