Community

Ophou rook binne almal se bereik

Promosie Artikel

THABAZIMBI – Waar dit donkiejare gelede byna ‘n statussimbool vir beide geslagte was om rustig aan ‘n rook-dingetjie te teug, spoeg menige deesdae vuur in die rigting van tabakverslaafdes in die nuwe, rookvrye Suid-Afrika.

Om op te hou rook is egter nie so maklik soos almal wil voorgee nie. Sigaretverbruikers weet ook presies wat die gevare van sigarette is en hulle is meestal uitgerangeer uit sindelike geselskap. Die verworpenes hurk in die bedompige rookhoekies van kantoorgeboue of trotseer hael en sneeustorms, net om sweerlik in die geheim te wonder hoe lank hulle sal kan volhou met die agteraf gestokery. As jou lus tog maar net nie so groot was nie, het jy sommer dadelik jou sigarette weggegooi tot in die buitenste duisternis, maar die drang daarna is altyd so onvoorspelbaar.

Dit kan soos ‘n groot twak by jou posvat wanneer jy dit die minste verwag, of jou met vernietigende gedrag verlei. Daar is egter verskillende dinge wat die groot verlange aanwakker. Dit verskil tussen nikotien-onttrekking, stres, ‘n bekende rooksituasie of ‘n aangename herinnering daaraan. Bloot deur van rook te lees (soos jy nou hier doen) kan jou rooklus soos ‘n tsoenamigolf laat opwel en al jou goeie voornemens om die rookgewoonte uiteindelik te bowe te kom, verswelg.

Feit is daar is min dinge wat die rooklus werklik demp, hoewel raad volop is. Dan wonder ‘n mens: is raad alleen genoeg om die verslawende gewoonte vir ‘n kishou te slaan? Skep moed, want die geheim lê in hulpmiddels soos die gratis rookstaak-kliniek wat vanaf 22-26 Julie 2013 by die Helshoogte Konferensiesentrum te Jourdanstraat nr 29, Thabazimbi aangebied word. Die program wat tydens die kliniek aangebied word, bied suksesvolle strategieë om jou lus-vir-rook-bevliegings in toom te hou en daarmee vol te hou. Jou hunkering na nikotien word direk aangespreek en die program roem daarop dat hy al duisende mense gehelp het om die nare rookgewoonte te oorwin. Beteul dus jou rookdrang en sorg dat jy die rookstaak-kliniek bywoon. Vir navrae, skakel Salomie Faure 083 6000 352 of Heila Richardson 083 7658 900.

28-ophou rook

Klop jou nikotienverslawing deur die rookstaak-kliniek vanaf 22-26 Julie by te woon.