Carla se drome word waar
THABAZIMBI – Voormalige Thabazimbiër en oud-Frikkie, Carla Viljoen het onlangs haar staal in Amerika se ARTS showcase gewys.
Carla(19) was een van talle uitverkose modelle, sangers en akteurs vanoor die hele wêreld wat na New York en Orlando, Florida gereis het om oudisies te doen voor nie minder as 48 internasionale verhoogkuns-instansies soos VH1, Disney, Warner Bros, EYE model management en Boom Models onder andere.
Sy het daarin geslaag om tydens oudisies en drama optredes as een van die Top 5 presteerders vir die ‘TV Commercials’ afdeling aangewys te word. Sy het ook twee herroepe ontvang van twee reuse in die industrie, naamlik Capitol records/Warner Bros. en EYE Model Management in Tennessee wat hul op “high-fashion” en kommersiële modelle toespits.
Hierdie herroepe het haar in ‘n posisie geplaas om haar portefeulje en CV persoonlik aan ‘n paar van die wêreld se grootste agente en bestuurders te gee.
“Ek voel oorweldig deur die hele ondervinding en is baie bly. Dis soos ‘n droom wat waar geword het. Ek is so dankbaar vir elke liewe person wat in my geglo het en steeds glo en my ondersteun om my drome te help waarmaak.” Het Carla aan Kwêvoël gesê.
Sy gaan vir die res van die jaar op haar studies konsentreer, maar sal voor die einde van die jaar haar debuut verskyning op die plaaslike dramaverhoog maak, iets waarna sy baie uitsien.
“Kort daarna vertrek ek na Los Angeles om my kursus by die New York Film Academy te gaan doen, waarna ek ook vreeslik uitsien!” Het sy opgewonde, met oë vol drome vertel.
Carla Viljoen werk hard om haar drome te verwesenlik.