Olivier-broers ryg grade in
THABAZIMBI – Vier broers, wat almal oudleerlinge van Laerskool Thabazimbi en Hoërskool Frikkie Meyer is, presteer steeds, jare nadat hulle gematrikuleer het.
Met sewe onderskeidings in matriek, het ouboet Ockie die pas aangegee waarop George sy rekord verbeter het met agt onderskeidings.
Ockie (37) het as geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer. Hy woon en werk in Perth, Australië.
George (35) het Mynbou Ingenieurswese voltooi en is mede-eienaar van ‘n suksesvolle mynboukonsultasiebesigheid in Pretoria.
Carel (32) voltooi sy graad in B.Sc. Finansiële Wiskunde en geniet die studies soveel dat hy dit voortgeset het en sy doktoraal in Toegepaste Wiskunde by die Universiteit van Kaapstad verwerf.
Francois (29) bly nie agter nie. Hy voltooi sy graad in Rekenaarsingenieurswese en verwerf sy Meestersgraad, cum laude, te Universiteit Stellenbosch. Hy is pas gekeur om ‘n jaar lank saam met ‘n SA navorsingspan na Antartika te gaan.
Die vier intelligente Olivier-broers presteer steeds: Ockie (inlas), Francois, Carel en George Olivier.