Corra Myburgh, in diens van ons gemeenskap
Ons lesers skryf:
Dit was ‘n donker aand van chaos toe ek haar die eerste keer ontmoet. Ons drom saam by die staatshospitaal, onseker wat om te doen. Onseker wat volgende moet gebeur. Haar kort, doelgerigte figuur verskyn om die hoek en binne oomblikke heers daar kalmte en orde. Dit is in hierdie aand wat ek besef het, wanneer die meeste van ons rustig voor die TV sit en 7de Laan kyk, is daar ‘n vrou wat haar warm huis en kinders verlaat om ‘n ouma, ‘n ma, ‘n dogtertjie, ‘n jong meisie of ‘n klein seuntjie te kom bystaan wat deur geweldsmisdaad geraak is. Dit is in hierdie aand waar ek eerstehands gesien het hoe getraumatiseer iemand is wat sopas verkrag is en die kalmte, rustigheid en gevoel van veiligheid wat hierdie formidabele vrou in hierdie situasie verskaf, dat ek geweet het Corney Myburgh is nie sommer net ‘n polisievrou nie – sy het ‘n roeping wat sy vervul.
Adjudant Offisier Myburgh is bevelvoerder van die Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Oortreding-Eenheid in Thabazimbi en Northam. Sy is reeds 23 jaar in diens van die gemeenskap. Adjudant Offisier Myburgh, ons salueer jou. Ons sien wat jy doen. Jy laat ons trots voel om deel van hierdie gemeenskap te wees. Jy laat ons gerus voel om te weet daar is mense soos jy wat omgee vir ons veiligheid en ons welstand in moeilike tye. Ek salueer ook hiermee elke man en vrou in blou in Thabazimbi. Die omstandighede waarin jul werk is nie altyd maklik nie. Julle loop dikwels in plekke in waar niemand kans sien om in te gaan nie. Jul sien, hoor en weet dinge wat ons kwesbaar maak, dankie dat jul dit veilig hou en ons beskerm. Jul suksesse kan nie altyd aan die openbare klok gehang word oor die sensitiwiteit van die saak nie, maar vandag wil ek dit aan die klok hang. Dankie vir elke uur wat jul by die aanklagkantoor sit, dankie vir elke kilometer wat jul agter misdadigers aanry. Dankie vir elke toneel wat jul opruim. Dankie vir elke traan wat jul stort vir elke een van ons se seerkry.
Daleen Venter
Pastorale berader, Thabazimbi