CommunityTop Stories

Aardbewing skud Thabazimbi-omgewing

THABAZIMBI – Die aardbewing wat op Saterdagoggend 22 Junie om 07:08 die Thabazimbi-area geskud het, se episentrum was op ‘n plaas wes van Thabazimbi.

Volgens dr Martin Brandt van die Suid-Afrikaanse Nasionale Seismograaf Netwerk, het die aardbewing 3.2 op die lokale magnitude skaal geregistreer. Die diepte kon tot ‘n kilometer diep strek.

Kwêvoël het besoek afgelê by Mongatane Lodge, die eiendom van Boeta van Dyk, wat verlede jaar op 20 Mei ‘n soortgelyke skudding beleef het. Volgens Boeta het die skudding ‘n kraak deur sy swembad veroorsaak waarna die 32 000 liter water in die grond verdwyn het.

‘n Gas wat in die lodge vertoef het, het ‘n rammelende geluid gehoor en by die venster uitgekyk om te sien waar dit vandaan kom. Vir hom het dit geklink asof iemand ‘n drom oor die sement rol. By nadere ondersoek het hulle die leë swembad ontdek en geweet dat dit ‘n aardbewing was.

Met Saterdag se aardbewing is daar heelwat skade aan die infrastruktuur aangerig. Boeta het Kwêvoël gewys hoe een kraak regdeur ‘n muur, oor die plaveisel verby die swembad en deur sy lodge loop. Die opknappingswerk beloop na beraming derduisende rande.

‘n Aardbewing is ‘n bewing of skudding van die aardoppervlak. Dit ontstaan meestal as gevolg van rotsmassas wat beweeg en teen mekaar by geologiese breuke in die boonste lae van die aardkors skuur. Die aarde se soliede dele beweeg voortdurend teen ‘n slakkepas en aardbewings kom voor waar die spanning vir die materiale dus te hoog word.

Enigeen met foto’s of inligting oor hierdie aardbewing of soortgelyke aardbewings in die omgewing, kontak gerus estie@kwevoel.co.za of 014 777 1621.

26-Aardbewing oom Boeta van Dyk

Boeta van Dyk by die kraak in die muur wat deur Saterdag se aardbewing veroorsaak is. Mongatane Lodge se swembad het tydens verlede jaar se aardbewing gekraak.

 

 

 

 

 

 

26-aardbewing seismoloe

‘n Kunstenaarsvoorstelling van die Suid-Afrikaanse Seismograaf Netwerk se koördinate van die episentrum van die aardbewing op 22 Junie 2013. Grafiese voorstelling: Franco Loots.