Community

Verkoue, griep en die gevreesde varkgriep

THABAZIMBI – Plaaslike dokters het hul hande vol met die aanbreek met winter, en daarmee saam, die uitbreek van griep en die gevreesde varkgriep.

Varkgriep verwys na griepgevalle wat veroorsaak word deur Ortomixovirusse wat endemies is tot varke. Dit was in die verlede algemeen onder varke en seldsaam in mense. Die variasies kan gewoonlik egter nie van mens-tot-mens oorgedra word nie. Die Varkgriepvirus het egter muteer na ‘n vorm wat maklik van mens tot mens oorgedra kan word, dus kan Varkgriep, anders as voëlgriep versprei word deur mens tot mens kontak. In mense is die simptome tipiese simptome van griep- en verwante siektes naamlik kouekoors, koors, seer keel, spierpyne, erge hoofpyn, hoes, tamheid en algemene ongemak. Dit is bekend dat Varkgriep veroorsaak word deur Influensa A subtipes H1N1, H1N2, H3N1 en H2N3 wat wêreldwyd sirkuleer.

Varkgriep is ‘n siekte van die lugweë wat veroorsaak word deur die tipe A griep (H1N1) virus. Hierdie griep algemeen bekend as varkgriep, wat reg oor die wêreld voorkom, word veroorsaak deur ‘n muteerde weergawe van die virus. Die virus versprei van persoon tot persoon. Dit steek net so maklik soos gewone griep aan. Wanneer mense hoes of nies, stel hulle besmette druppels vry, wat ander mense kan inasem. Jy kan ook aansteek deur aan besmette hande of oppervlaktes en daarna aan jouself te vat. Die druppels versprei gewoonlik omtrent een meter rondom die geïnfekteerde persoon. Dit sweef vir ‘n rukkie in die lug, waarna dit op oppervlaktes land. Die virus kan vir tussen twee tot agt ure op hierdie oppervlaktes oorleef. Enige iemand wat aan hierdie oppervlaktes raak, versprei dan die virus verder deur enige iets anders waaraan hulle raak. Dit is ook moontlik om A(H1N1) meer as eenkeer te kry aangesien die virus kan muteer (verander). Wanneer jy besmet word met die varkgriep virus, maak jou liggaam teenliggaampies, wat die virus sal herken en daarteen veg wanneer die liggaam dit weer teëkom. As die virus muteer, sal jou liggaam dalk nie die nuwe stam herken nie, en jy sal weer siek word. ‘n Algemene vraag is of mens moet probeer varkgriep kry sodat weerstand teen latere, erger stamme van die siekte opgebou kan word. Die antwoord is nee. Moenie probeer siek word nie, dit sal net die virus help versprei. As jy nou varkgriep kry beteken dit ook nie dat jy nie later ander, nuwe stamme van die siekte sal kry nie.

Die simptome van A(H1N1) influensa is baie dieselfde as die van gewone griep. Dit sluit koors, hoesbuie, hoofpyn, spier- en lyfpyn, ‘n seer keel en loperige neus en somtyds braking en diarree in. Tipiese simptome is ‘n skielike hoë koors (38° en hoër) en ‘n skielike hoeserigheid. Ander simptome is tamheid, koue rillings, seer spiere en ‘n verlies aan eetlus.

Jy kan die risiko om besmet te word of ander te besmet verminder (maar nie heeltemal vermy nie) deur: Altyd jou neus en mond te bedek met ‘n snesie wanneer jy hoes of nies, altyd onmiddelik en deeglik ontslae te raak van vuil snesies, vol te hou met goeie basiese higiëne deur byvoorbeeld gereeld jou hande te was met seep en water. Dit voorkom die verspreiding van die virus van jou hande na jou gesig of ander mense en oppervlaktes, oppervlaktes soos deurhandvatsels, telefone en werksareas gereeld en deeglik skoon te maak, vermy kontak van nader as ‘n meter met mense wat griep mag hê, verminder die tyd wat jy saam met ander mense in beknopte areas spandeer, verbeter die vloei van lug in jou huis en kantoor deur vensters oop te laat, volg ‘n gesonde lewenstyl – kry genoeg slaap, eet voedsame kos en oefen gereeld.

Gedurende vorige pandemies was die stertesyfers die hoogste onder kinders van minder as een jaar.

Jy moet dadelik jou dokter of gesondheidswerker kontak as jou kind die volgende simptome het: tamheid, hoofpyn, loopneus en nies, seer keel, ‘n kort asem, verlies aan eetlus, braking en diarree, seer spiere, ledemate en gewrigte, ‘n koors van 38° of meer, koorsigheid, ‘n warm vel en stuipe aanvalle.

Hou die kind by die huis en gee die behandeling wat jy gewoonlik vir kinders met griep of verkoue sal gee. Maak seker dat hulle baie vloeistowwe drink, rus en gesond eet. Jy kan vir hulle voorgeskrewe of oor-die-toonbank-medisyne gee om die simptome van die griep te verlig en die koors te breek. Neem dadelik jou kind na die dokter of gesondheidswerker indien simptome vererger.

Influensa A(H1N1) word nie oorgedra deur vark of varkprodukte te eet nie. Jou varkvleis is net so veilig soos altyd, maar onthou om nog steeds goeie higiëne toe te pas en vleis goed gaar te maak. Die influenza (H1N1) virus gaan dood as dit aan temperature hoër as 70° blootgestel word.

Telefoniese navrae kan gerig word aan: NIOS Influensa Navrae (08:00 tot 17:00 Maandag tot Vrydag) – 082 477 8026, na-ure, naweke en openbare vakansiedae – NIOS Navrae – 082 883 9920. (Bron: http://lewegewer.com/category/suid-afrika/).