Community

Thabazimbi Voorsittersforum vergader met munisipale bestuurder

THABAZIMBI – Die afgevaardigdes van die Thabazimbi Voorsittersforum het op 11 Junie 2013 ‘n vergadering met Advokaat Ntsoane, die munisipale bestuurder van Thabazimbi Munisipaliteit en sommige van sy personeel gehad.

Die doelwit van die vergadering was om die probleme en onduidelikhede wat in die munisipale begroting voorkom te bespreek. Die begroting is deur die raadslede op 31 Mei 2013 goedgekeur vir implementering met ingang 1 Julie 2013.

Die wesenlike probleme wat voorkom in die begroting is tydens die vergadering aangespreek. Duidelik is dat die raadslede die begroting goedgekeer het, sonder enige fisiese analise van die begroting. Die probleme met die begroting wat tydens die vergadering aangespreek is, is die volgende:

Eiendomsbelasting – Die Voorsittersforum lede meld dat die Burgemeester, me P Mosito, tydens die raadsvergadering en op dieselfde dag by `n munisipale funksie bevestig dat eiendomsbelasting vir residensiële eiendom deur toegewings wat gemaak is, tot 5,6% beperk is. Die forumlede dui aan dat gebaseer op die beskikbare inligting, dit bereken is dat waar `n eiendom se waarde as gevolg van herwaardasie met 60% verhoog het, die verhoogde eiendomsbelasting in die omgewing van 20% sal wees. Die Hoof Finansiele Beampte, mnr Charles Malema, bevestig die verhoging soos aangedui en nie die 5,6% soos afgekondig is nie. Die verhoging volgens hom is binne die perke soos voorgestel deur die Departement van Nasionale Tesourie. Lede van die forum is eens dat die riglyne van Nasionale Tesourie `n algehele verhoging is, wat nie die verbruikersindeks oorskrei nie en nie gebaseer is op die tarief in isolasie nie. Dit word ook verder toegelig dat dieselfde beginsel geld soos vervat is in die Thabazimbi Municipality Rates Policy, wat goedgekeur is deur die raad.

Wetgewing vereis van raadslede die tarief moet goedkeur waarteen eiendomsbelasting bereken word. Hierdie goedkeuring moet geskied tydens die raadsvergadering waar die munisipale begroting goedgekeur word. Dit het dan wel so geskied. Forumlede versoek die bewys van die tarief waar dit in die begrotingsdokument verskyn, wat nie gelewer kon word nie. Die rede hiervoor is dat dit nooit in die begrotingsdokument ingesluit was nie. Afwesigheid van die tarief wat goedgekeer is, in wese maak die afdwingbaarheid van betaling van eiendomsbelasting twyfelagtig omdat dit nie bestaan nie. Weereens word die vinger gewys na raadslede wat `n besluit neem wat van wesenlike belang vir inwoners is en die potensiaal het om hulle finansieel te ruïneer, sonder inligting om `n verstandige besluit te neem.

Elektrisiteitstariewe – Die verhoging in elektrisieteitstariewe word gereguleer deur die Nasionale Energie Reguleerder (NERSA), wat `n verhoging van 7,3% aan munisipaliteit voorgeskryf het. Enige verhoging meer as die 7.3% moet toestemming voor gekry word. Die goedgekeurde begroting maak voorsiening vir `n 8% verhoging waarvoor daar geen bewys aan die voorsittersforum verskaf kan word dat dit wel goedgekeur is. Die basis van aanslag van elektrisiteitstariewe vir besighede en kommersiële verbruikers word verander en met die verandering word die koste van elektrisiteit meer as 100% verhoog, met geen duidelike rede vir die verhoging nie. Die voorsittersforum dui hulle ongemak aan met hierdie situasie. Hierdie probleem is skriftelik aangedui in sy brief aan die munisipaliteit ten opsigte van kommentaar op die konsep munisipale begroting, wat nie op gereageer is nie. Verder het daar `n vergadering met die Tegniese Bestuurder, mnr C Booysen, plaasgevind en die probleem aan hom uitgewys. Ten spyte van al die aksies het raadslede hierdie verhoging goedgekeur. Die voorsittersforum stel dit dan onomwonde dat hierdie verhoging sal nie betaal word nie en sal verder met NERSA opgeneem word, indien dit nie verander word nie.

Water tariewe – Die koste van water word met 12% verhoog vir verbruikers, waar die verhoging deur Magalies Water Raad 10% is, wat verdere ondersoek nodig het. Die forumlede dui aan dat die 2% verhoging bo en behalwe die 10% verhoging moet hersien word. Geen rede word aangedui waarvoor die addisonele 2% benodig word nie.

Riolering – Ten opsigte van die verhoging in koste van riolering, is dit nie duidelik watter tarief goedgekeer is deur raadslede. As die begrotings dokument bestudeer word, word die verhoging aangedui om 12% of 10% of 6% wees. Als hang af watter deel van die goedgekeerde begrotings dokument gelees word. Hier het raadslede weer gefaal in hulle verantwoordelikheid en is daar ooreen gekom dat die saak kort verdere ondersoek.

Arbeidskomponent van Tegniese Departement – Die begroting dui aan dat lone en salarisse word met 6,8% verhoog. Indien die Tegniese Department se begrotings na gegaan word vir die dienste wat hy lewer, is die verhoging in arbeid gelykstaande aan die diens wat hy lewer. Vir die elektrisiteitsafdeling is dit bevoorbeeld 10% en vir water 12%. Dit koste verhoging wissel per afdeling van so laag as 6% tot so hoog as 12% waar die inwoners van die dienste gebruik.

Die probleme wat voorkom is wesenlik, en kan die begroting in sy huidige formaat nie toegelaat word om geïmplementeer te word nie. Die munisipale amptenare is dan ook ingelig indien die probleme soos geïdentifisieer nie aangespreek word nie, die voorsittersforum geen keuse gelaat word nie om aan sy lede aan te beveel om betaling te weerhou, binne die riglyne wat in wetgewing voorsiening voor gemaak word.

Tydens die besprekings van die begroting is dit duidelik dat raadslede nie bevoeg is om oordeel te fel oor die begroting nie, of net geen belangstelling toon om seker te maak dat die begroting aan die behoeftes van inwoners voldoen nie.

Daar is tydens die vergadering ooreengekom dat van die voorsittersforumslede met die Hoof Finansiële Beampte sal saamwerk. Die doelwit hiermee is om `n oplossing vir die bestaande probleem te vind, wat die voorsittersforum se lede sal beskerm teen onbillike verhogings.

Vir implementering van die munisipale begroting op 1 Julie 2013, moet spoedige oplossings gevind word, wat insluit dat `n buitengewone vergadering sal moet laat plaasvind, om veranderings in die begroting goed te keur.

– J C Viljoen: Thabazimbi Voorsittersforum