Community

Spruitskoonmaak-projek

Thaba teen dwelms

 

THABAZIMBI – ‘n Paar besighede het op Vrydag 7 Junie 2013 saam ingespring om van ‘n punt te begin om die dorp “skoon” te maak.

Die skoonmaakaksie was aanvanklik as gevolg van die ooglopende toename in dwelmhandel vanuit die spruitjie wat deur die middedorp loop. Met intrapslag is daar gesien dat ontbossing gedoen moet word asook vullis verwyder moet word.

Man en vrou het skouer-aan-skouer gepoog in die stryd. Binne ‘n paar uur was daar reeds by die 350 swartsakke vol vullis en rommel. Die TLB het so ongeveer 100m gestoot binne die eerste uur. Gou het die projekleiers besef dis nie ‘n dagtaak nie en het hulle groter masjinerie gekry om die daaropvolgende Saterdae skoon te maak. En steeds is dit nie die einde nie.

Thaba teen dwelms het ‘n “nes” oopgevlek waar hulle op ‘n sak dagga en ander middels afgekom het wat deur die SAP gekonfiskeer is. Daarom sal hulle ter wille van die kinders nie ophou om die dorp “skoon” te maak en so te probeer hou nie. “Hierdie is nie ‘n taak wat oor ‘n jaar afgehandel gaan wees nie, dit is etlike jare se werk.” Het Thaba teen dwelms se woordvoerder gesê.

Hoe meer mense betrokke is en hoe meer bekamping Thaba teen dwelms gaan probeer doen, hoe vinniger sal die ongewenste elemente uit die dorp padgee. “Dis glad nie lekker om te hoor dat Thabazimbi en omliggende area die mekka van dwelmhandel in die Limpopo Provinsie is nie. Kinders wat besig is met prostitusie, seuns en dogters, omdat daar nie altyd geld is vir ‘n “kick” nie. Meisies wat saam met die “dealers” in ‘n kar klim en op afgeleë plekke gaan stop en hulle dade daar verrig en as ek haar weer sien is sy ‘n “runner”.”  Volgens Thaba teen dwelms is van die uitgaanplekke in die dorp ook broeiplekke vir kwade. “Waar is hierdie mense se sekuriteit en waardes om ‘n dwelmvryeplek te hê. Klein inkopiesentrums waar “dealers” oop en bloot staan en dwelms verkoop.” Volgens Thaba teen dwelms sal jy dit sommer met die blote oog sien – as jy weet waarna om te kyk. “Daar is mense wat nie regtig besef wat hier aangaan nie.”

Die persone wat hierdie projek dryf se lewe is in gevaar aangesien hierdie ouens se geld stelselmatig gaan minder word en hulle ‘n ander heenkome sal moet gaan soek.

Volgens Thaba teen dwelms is die ergste van alles die ouers wat ‘n blinde oog gooi. “Ouers wat net nie omgee nie! Ouers wat weet hulle kinders gebruik dit en net ‘n veer voel.” Het Thaba teen dwelms se woordvoerder aan Kwêvoël gesê. “Dan is daar ouers wat omgee en net doodeenvoudig nie weet wat om te doen nie. Ouers wat moedeloos is! Is dit nie ironies dat ‘n Bevelvoerder van die SAPD vermoor is omdat hy nie tyd het vir skelms nie? Wat dink julle is hier aan die gang in ons dorp? Weet julle dat dwelms onder die Laerskoolkinders ook begin het? Weet jy dat jou kind nie veilig is nie?”

Volgens Thaba teen dwelms voed baie ouers hulle kinders op na die beste van hulle vermoë. Goeie grondslag, goeie waardes maar nogsteeds is daar so baie faktore wat maak dat die kind knak en dwelms of alkohol begin misbruik.

Thaba teen dwelms se boodskap aan ouers is dat die gemeenskap ‘n verskriklike epidemie op hande het en dat almal moet saamstaan om ons dorp ‘n beter plek te maak, juis vir die kinders.

Thaba teen dwelms se doelwit is om ouers en kinders touwys te maak oor die dwelmhandelwêreld – waarna om te kyk, wat om te doen as jou kind dwelms gebruik, waar kan jy hulp kry en watter tipe dwelms daar beskikbaar is.

Thaba teen dwelms doen ‘n beroep op die gemeenskap om deel te neem aan hierdie grootse projek. Stuur e-posse met enige inligting oor dwelmverwante kwessies. Samesprekings vir ‘n grootskaalse vergadering met rolspelers vanuit die dorp asook die provinsie is tans in die pyplyn. Hou Kwêvoël dop vir meer inligting.

Thaba teen dwelms bedank graag almal wat met hierdie projek gehelp het. “Julle is absoluut ysters en ware mense wat regtig omgee.” Diegene wat wou help, maar nie kon nie, wat e-posse en sms’e gestuur het, word ook bedank.

Vir dié wat sê: “waarvoor doen ons dit, niks gaan help nie” wil hulle sê: “get a life”. Die ouer wat sê: “my kind sal dit nooit doen nie” wil hulle vandag sê – maak oop jou oë, dis juis hulle wat deel is.

Vir enige inligting, hulp of ondersteuning, e-pos Thaba teen dwelms gerus by thabateendwelms@gmail.com. Alles word streng privaat gehou.