Ongeorganiseerde chaos by munisipale asgate
THABAZIMBI – Inwoners van Thabazimbi is ontstoke oor die stand van sake by die plaaslike stortingsterrein.
“Die asgate is nou net ‘n wanordelike vullishoop waar jy sommer enige ding kan gaan gooi… as jy daar kan inkom.” Het ‘n inwoner Woensdag aan Kwêvoël gesê.
Nog ‘n inwoner het gesê dat dit moeilik is om met ‘n bakkie en sleepwa by die terrein uit te kom aangesien die hope vullis oral lê en die pad nie sodanig ‘n u-draai kan akkommodeer nie. Hy is deur een van die toesighouers aan diens aangeraai om sy tuinvullis in een van die dorp se skeepvraghouers te gaan gooi.
‘n Munisipale amptenaar het erken dat die munisipaliteit nie altyd weet watter vuilgoed daar gestort word nie, dít nadat Kwêvoël met besoek aan die stortingsterrein, op dierlike karkasse afgekom het. Vir werkloses is die stortingsterrein die ideale plek om voedsel te bekom, al is dit oud en onhigiënies.
Nog ‘n onopgeloste raaisel, is die besturing van die monetêre vergoeding wat geïn word wanneer individue hul tuinvullis by die vullisterrein wil stort. Na wat berig word, betaal ‘n individu tot R50 per vrag.
‘n Goed bestuurde stortingsterrein kan higiënies en relatief goedkoop bedryf word. Afval moet op so ‘n manier bestuur word dat dit nie die omgewing enige skade aandoen nie. Gevare wat ouer en minder veilige stortingsterreine kan inhou, sluit in: wind wat gemors rondwaai, diere en insekte wat gelok word en dodelike gasse, soos metaangas en koolstofmonoksied. Dit laat ‘n stank in die lug en plante onder en bo die grond vrek.
Ten tyde van pers, het die afdelingshoof van afvalbestuur, mnr Julian Nkoana, nog nie kommentaar hierop gelewer nie.
Estie Taljaard
estie@kwevoel.co.za
‘n Duidelike prentjie van hoe die plaaslike stortingsterrein lyk. Die spreekwoord wat lui, een se rommel is ‘n ander se skat, is sonder twyfel nie hier van toepassing nie.
Dierkarkasse is ook tussen die rommel gevind. Enige aasvoël se droom.