Skietgevegte en skoonmaakaksies vir Makoppa GPF

MAKOPPA – Die Gemeenskapspolisiëringsforum van Makoppa het groot suksesse die afgelope tyd, met bestryding van misdaad, gehad.

Hulle was deel van die groep boere, spoorsnyers en polisie wat bykans ‘n dag lank jag gemaak het op ‘n bende stropers op ‘n plaas sowat 30km suid van Cumberland.

Gedurende Saterdag en Sondag, 8-9 Junie, het Makoppa GPF en STTU lede (Specialised Tracking and Tactical Unit) hulp verleen aan Cumberland- en Steenbokpan gemeenskap tydens ‘n renosterstropingspoging. Hierdie operasie het sowat 24 uur geduur. ‘n Totaal van 46 GPF lede, 21 SAPD lede, twee helikopters en 42 voertuie was tydens die operasieontplooi.

Een verdagte is noodlottig gewond nadat hy in die lies gewond is. Hy is op die toneel dood. Daar is beslag gelê op ‘n 303 jaggeweer, ammunisie en ‘n kapbyl. ‘n Tweedeverdagte is oomblikke later gearresteer. Die saak het Maandag in die Thabazimbi Magistraatshof voorgekom. Owen Ndlovu, ‘n Mosambieker wat tydens die gefnuikte strooptog gearresteer is, staan op drie aanklagte: jag van renosters sonder ‘n permit, besit van ‘n vuurwapen en besit van ammunisie. Die beskuldigde het nie aansoek op borg gedoen nie en die saak is uitgestel tot 20 Junie. Twee mans is nog soek. Volgens Kolonel Ronel Otto, polisiewoordvoerder, is geen renoster gekwes of dood nie.

Die operasionele kostes vir die renosterstropers se soektog beloop ongeveer R150 000.

Makoppa GPF het vroeër, gedurende die oggendure van Maandagnag, 3 Junie tot Dinsdagoggend 4 Junie, ‘n wenk van kriminele aktiwiteite in die Tussenkomsomgewing ontvang. Flink en vinnige optrede deur die GPF, gemeenskapslede en SAPD het gelei tot die arrestasie van twee verdagtes en beslaglegging van die gesteelde eiendom.

Gedurende Donderdagmiddag, 6 Junie, is onwettige jag gerapporteer en Makoppa GPF lede en SAPD is weer geaktiveer. Twee verdagtes is gearresteer en beslag is gelê op ‘n gelisensieërde vuurwapen, ammunisie, knaldemper en ‘n soeklig. ‘n Rooibokkarkas is naby die heining gevind. Die verdagtes het Maandag in die Thabazimbi Landroshof verskyn.

Makoppa GPF het ook hulp verleen aan die dorp met die skoonmaak van die spruitjie waar daar ‘n probleem was met dwelmverkope.

Cumberlandgemeenskap het ook by Makoppa GPF ingeskakel en die hoop word uitgespreek dat daar met hierdie samesmelting en gemeenskapsbetrokkenheid saam met die SAPD die stryd teen misdaad wen en sodoende die gemeenskap beveilig.

Makoppa GPF wil graag almal bedank vir hulle betrokkenheid en die instansies wat hulle ondersteun.

24-spruit dwelms

Makoppa GPF het ook hulp verleen tydens die spruitskoonmaakaksie verlede Vrydag, 7 Junie waar daar op groot hoeveelhede dwelms beslag gelê is.