Kosfees vir dineegangers
THABAZIMBI – Geen moeite is ontsien tydens die organisering en aanbieding van vanjaar se Wildsdinee, wat gedurende die jaarlikse Wildsfees op Vrydag 31 Mei gehou is nie.
Die sowat 150 gaste het heerlik gesmul aan die watertand-lekker wildscuisine, eiesoortig aan die bosveld en sy mense, waarna daar ‘n veiling deur Carl Vos van Vleissentraal, aangebied is.
Die tafels het behoorlik gekreun onder die gastronomiese fees met gerookte vlakvark boud, rooiboksosaties, willestertpot, wildsbobotie, wildspastei en vir die minder avontuurlustige siele, gebraaide hoender.
Die fondse wat tydens hierdie geleentheid ingesamel is, sal vir die Solidariteit Helpende Hand se Northam- en Thabazimbi-takke se studentebeurse aangewend word.
Dr Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, het die dineegangers rakende die talle werksaamhede van hierdie liefdadigheidsorganisasie toegespreek.
Die Wildsdinee organiseerders, Mari Meintjes en Monica Annandale, bedank die gemeenskap vir hul ondersteuning en teenwoordigheid tydens hierdie glansgeleentheid. Mari het die hoop uitgespreek dat hierdie geleentheid weereens ‘n jaarlikse instelling sal word wat deur die gemeenskap sowel as toeriste, bygewoon sal word ter viering en verbetering van ons omgewing en ons jeug se toekoms.
Belangstellendes kan Mari, voorsitster: Solidariteit Helpende Hand Northamtak, kontak by 082 086 4915.
Die organiseerders van die Wildsdinee, Mari Meintjes en Monica Annandale.