Tekkie-Tax vir goeie doel
THABAZIMBI – Tekkie Tax-dag, een van SA se nuutste liefdadigheidsbewegings, het landwyd op Vrydag 31 Mei plaasgevind, ter befondsing vir liefdadigheidsinstansies.
Die SAVF Hansie en Grietjie Kleuterskool en Boskabouters het saamgespan en ‘n pretdag vir die kinders by die parkie in Tiendelaan gehou. Nadat die kinders lekker moeg gespeel is, het hulle heerlik in die koelte op die gras piekniek gehou. Al die kinders het natuurlik hulle tekkies aangehad en hulle Tekkie-taxplakker gedra.
Deur elkeen se bydrae vir hierdie goeie saak, sal daar beslis ‘n verskil in dierebeskerming, basiese gemeenskapsdienste, kindersorg, gestremdheidsake en onderwys aangebring kan word.
Hierdie fondsinsamelingsprojek het vir SA’ners die geleentheid gebied om self te kan kies wie by hul donasies kan baatvind.
Deelnemende welsynsorganisasies het vyf verskillende plakkers teen R10 elk verkoop en elkeen van dié vyf plakkers het ’n groep welsynsorganisasies verteenwoordig, hetsy dit diere, bejaardes, kinders, persone met gestremdhede, of onderwys en opleiding was.
Dit word genoem die ABCs van liefdadigheid. ‘A’ staan vir allerhande diere, ‘B’ staan vir basiese gemeenskapsdienste. ‘C’ staan vir cool kinders, ‘D’ vir dienslewering aan persone met gestremdhede, en ‘E’ staan vir essensiële onderwys.
Tekkie Tax is ’n jaarlikse fondsinsamelingsprojek vir ’n verskeidenheid van die land se grootste, kleinste en mees betroubare welsynsorganisasies. Die projek (en die bankrekening) word nie deur net een welsynsorganisasie alleen beheer nie en elkeen van die deelnemende organisasies deel in die opbrengs en sukses van die projek.
Die kleinspan van SAVF Hansie en Grietjie en Boskabouters Kleuterskole het heerlik saamgekuier op Tekkie Tax-dag, saam met hulle op die foto is Lyn Stamp.