Sonja in Swartklip
SWARTKLIP – Die Evangelies Gereformeerde Kerk se Herfstee met gaskunstenaar Sonja Herholdt, twee weke gelede, was ‘n reuse sukses.
Volgens die organiseerders het Sonja soveel harte aangeraak en die terugvoering was werklik fenominaal.
Sonja, wat deur tee-gangers as “amazing en powerful” beskryf is, het die dames se harte aangeroer met haar verhaal. “Ek het nooit geweet hoe om op te staan nie, maar nou weet ek!” het een dame na Sonja se optrede vertel.
Marius en Angela Potgieter, ‘n besonderse egpaar van Swartklip, het tydens die geleentheid vertel hoe hul deur al hul seerkry en hartseer, met hul sterk geloof, hul eie storm oorwin het.
Sonja se “Pêrelhart van ‘n vrou” het self die mans so bietjie laat nadink en selfs van die gaste het litte losgemaak op maat van die musiek.
Sy het persoonlik die volgende dag geskakel om die organiseerders te bedank vir die mooi geleentheid en gesê dat die bosveldmense se harte warm is.
Die gemeente het baie hard gewerk om van die geleentheid ‘n sukses te maak en almal word bedank vir hul insette. Die organiseerders bedank ook graag almal wat die geleentheid bygewoon het, die jeug wat flink was met die tafels se bediening en die dames wat flink die smaaklike ete opgedien en natuurlik vir die skoonmaak agterna.
Almal het die oggend terdeë geniet en wag vir ‘n volgende een. Vir navrae skakel Rene Laas, skakelbeampte by 073 4299 411.
Agter vlnr: Johan Laas en ds Willie Olivier (leraar van EG Kerk te Swartklip). Voor: Rene Laas (skakelbeampte), Sonja Herholdt en Marike Olivier (pastoriemoeder).