Skouspel met Ses Snare
THABAZIMBI – Die opening van die nuwe Spar Super KunsteGrot in Thabazimbi was voorwaar ‘n skouspel van vermaak met Mathys Roets wat as deel van die Ses Snare die aand as kunstenaars opgetree het. Mathys is reeds ‘n ou bekende by die KunsteGrot en na hierdie openingsvertoning gaan die Ses Snare beslis nie agterweë bly nie.
Die Super KunsteGrot het behoorlik uit die as verrys nadat Eskom die huurkontrak van die perseel van die vorige Kunstegrot summier met baie min kennisgewing opgesê het. Dit het daartoe bygedra dat van die vertonings herskeduleer moes word, maar daarmee saam het nuwe horisonne oopgegaan, naamlik die eerste fliekvertoning deur die KunsteGrot. Dit is vir Laerskool Thabazimbi in hul saal aangebied, maar die nuwe KunsteGrot leen hom ideaal vir fliekvertonings. Een keer ‘n maand sal teatergangers die nostalgie van flieks op die platteland kan herleef met die Super KunsteGrot se eie filmvertoning. Die eerste filmvertoning is dan ook op 21 Junie wanneer “Lien se Lankstaan skoene” vertoon sal word. Kom woon dit gerus by en herleef die nostalgie van ons Afrikaanse films.
Die nuwe Super KunsteGrot is in die perseel van die ou Ipelegeng Spar wat ruimhartiglik deur Superspar op Thabazimbi, met die ondersteuning en hulp van ’n paar borge en individue, omskep is in ‘n teater waarop baie stedelike kleinteaters baie afgunstig sal wees. Die teater bied sitplek aan meer as 300 teatergangers en die groter verhoog bied baie meer beweegruimte aan kunstenaars.
Daar is ook ruim voorsiening vir die aanbied van klasse soos dans, kuns en drama. Die RiVo- Dramastudente is baie opgewonde oor die nuwe teater en die drama-klasse is reeds hier hervat. Dit is ook die tuiste van RiVo-Toneel, wat met die komedie, Die Graswewenaar, later hierdie jaar op die planke sal wees.
Die voorlopige program vir die res van die jaar sien as volg daar uit: Op 20 Julie besoek Die Grafsteensangers die Super KunsteGrot met ‘n splinternuwe aanbieding op dieselfde “tranetrek-storie”. Chris Chameleon is bespreek vir 7 September en op 5 Oktober besoek “Groet die Grotman” Thabazimbi weereens. Beslis nie ‘n vertoning vir die preutse en voorstanders van “Brand die Bra” nie.
Navi Redd, die groep wat hulle eie musiek sonder instrumente maak, vergas Thabazimbi se gehoor op 9 November. Nog ‘n vertoning wat jy nie moet misloop nie. ‘n Moontlike vertoning vroeg in Desember is ook op die agenda.
As jy die amptelike opening van die Spar Super KunsteGrot misgeloop het, verseker dat jy nie die volgende vertonings mis nie. Thabazimbi het hier ‘n juweel wat vir die voortbestaan van alle kulture gekoester moet word.
Hannes Coetzee van Thabazimbi Superspar oorhandig amptelik die sleutels vir die Super KunsteGrot aan Rita Volschenk wat haar met oorgawe toewy aan die bevordering van die kunste hier op Thabazimbi.
.