Community

Pasmaats: Tuisgebroude bier en lekker kos

Die geskiedenis van bier gaan baie duisende jare verder terug as die maak van wyn uit druiwe. Die eerste bewyse van vermentering en die daarmee gepaardgaande brouproses in die maak van bier is in Sjina gevind. Die proses was nie so gekontroleer as wat dit vandag is nie, maar die bewyse om ‘n alkohol-drankie uit graan te vervaardig was daar.

Bier het nog altyd ‘n groot rol in die sosiale opset van baie beskawings gespeel en daarom is dit glad nie ‘n geheim dat bier en kos, of die gebruik van bier in die kosmaakproses deel van die sosial opset is nie.

‘n Besoek aan Dewside Brouery en Restaurant in Thabazimbi sal jou gou laat besef dat vars, plaaslik gebroude bier en uitstekende kos ‘n wenner-kombinasie  vir heerlike sosiale verkeer is. Meeste mense is geneig om eerder wyn  met kos en die aanbieding daarvan te verbind as bier. Tog, in die land van die Romeine waar wyn volop gevloei het, is dit bier wat jy tradisioneel saam met die Italianers se stapellekkerny, pizzas, geniet en nie wyn nie.

Nader aan die huis; elkeen wat al ooit ‘n staptog op een van die vele staproetes in die land onderneem het, het sekerlik, as jy dit nie self gedoen het nie, gesien hoedat een groep stappers aan die einde van die staptog, ‘n blikkie bier en ‘n pakkie bruismeel onder uit ‘n rugsak delwe. Hierdie ekstra gewig is saamgedra net vir die genot daarvan om aan die einde van die staptog ‘n bierbroodjie op die kole te bou.

Hier gaan dit net oor bier, meel en ‘n bietjie sout. Meng dit, rol dit uit (slaan dit sommer net platter met jou hand, en maak so ‘n paar plat deegstukkies wat jy net so op die rooster plaas. Dit gaan nogal goed af met daardie pakkie gedroogte sojabone en groente. Gerooster, is dit die koningsmaal aan die einde van die uitputtende staptog.

Geniet ook jou bier met jou dis soos wat jy enige wyn by jou gunsteling restaurant sal uitkies. Onthou ‘n donker, mouterige bier, gaan baie goed saam met ‘n medium tot rou rumpsteak. Net so verkies jy dalk ‘n Pale Ale saam met die fillet, wat net so goed saamgaan met jou hoendergereg of jou vol ontbyt. Die ligter India Pale Ale, met sowat 2% alkohol, bedien saam met ‘n behoorlike ontbyt, bevat heelwat meer energie as waarop jy staat gemaak het om deur jou dagtake te kom. Dit sonder om jou die pad byster te laat raak…

Dewside Restaurant Vrydae oop vanaf 12:00 tot laat. Kom geniet ‘n egte Bavariaanse dis saam met jou tuisgebroude Ale.

Dewside bierproe reg

Spesiale Dewside bierbrood

Voeg een koppie broodmeel by twee koppies koekmeel, ‘n lepel strooisuiker, ‘n teelepel bakpoeier en ‘n teelepel swart seesout. Nadat die droë bestanddele gemeng is, voeg die volgende by: drie lepels heuning, ‘n handvol neute en 300ml Dewside Irish Red Ale (verkrygbaar net by Dewside Brouery en Restaurant in Tweedelaan 17).

Meng deeglik totdat dit ‘n deeg vorm.

Plaas die deeg in ‘n gesmeerde broodpan en gooi vier eetlepels gesmelte botter bo-op. Plaas in ‘n voorverhitte oond teen 180 grade vir ongeveer 50 minute. Toets die brood of dit gaar is deur ‘n skoon mes in die brood te steek. As die mes uitkom sonder dat die deeg daaraan vasklou is dit reg. Laat dit afkoel en keer uit die pannetjie.

Geniet jou brood saam met ‘n lekker wildsop of -bredie om die winterkou bietjie hok te slaan.