Editorial

Na 30 jaar weer terug

Week 22 – 31 May 2013

Kommentaar deur die redakteur, Pieter Coetzee:

Met die Wildsfees wat weer op byna sy oorspronklike tyd in die jaar aangebied word, herdenk ons dan ook vanjaar die 30ste aanbieding van die Wildsfees en is daar beslis min feeste wat met dertig jaar op hulle kerfstok kan spog.

Die eerste Wildsfees het die vorm van ‘n dinee aangeneem. Die dinee is deur die Gereformeerde Kerk Drieviersboom op Dwaalboom, in die Thabazimbi Bioskoopsaal aangebied, met ‘n verskeidenheid van wilddisse op die spyskaart. Hieronder was regte pofadder, en dit was nie die lewer-dis wat sy naam dra nie.

Die potensiaal om die dinee uit te brei na ‘n volwaardige Wildsfees is deur die destydse Thabazimbi Distriksontwikkelings Vereniging (Thabazimbi  DOV) raakgesien en daar is besluit om die volgende jaar groter te gaan en ‘n wyer besoekerstal te trek. Hierdie fees het gepaardgegaan met ‘n wildsimposium, uitstallers van hoofsaaklik wildboerder-gebonde stalletjies en ‘n groot hoeveelheid plaaslik verwerkte wildvleissnitte watt e koop aangebied is. Vir die dames was daar in die beginjare ook gereeld modevertonings van die nuutste safari-drag, asook wildvleis voorbereiding-demonstrasies.

Vanjaar se fees is beslis op die oorspronklike pad met meer aanbiedinge oor die voorbereiding van vleis en ‘n seminaar wat op die wildbedryf gemik is. Soos gewoonlik behoort die Wildveiling, wat vanjaar weereens deel van die Wildsfees is, baie aandag geniet.

Op ‘n stadium is besluit om die Wildsfees saam met die Thabazimbi Skou aan te bied. Dit het byna-byna tot die ondergang van die Wildsfees gelei. Eintlik is dit snaaks om te dink dat die Wildspotjiekos, die Wildsfees op hierdie stadium van ondergang gered het. Die skoukomitee het slegs ‘n klein ruimte aan die “Wildsfees-gedeelte” van die skou afgestaan. Nieteenstaande die feit dat die organiseerders van die Wildsfees vir hierdie spasie en al die helpers se toegangsgelde ook moes betaal, was die fees beslis ‘n groter sukses as enige van die ander wat onder die vaandel van die Thabazimbi Skou aangebied is. Die Willem Prinsloo Museum, met hul mampoer, is ingeroep en drie boere-orkeste, insluitend die boere-orkessie van Laerskool Thabazimbi, wat toe met verskeie goue medaljes gespog het, asook drie optredes op TV -programme, het van laatoggend op die Saterdag opgetree en daarmee saam het die besoekers die Wildsfees-stalletjie behoorlik vertrap. Besoekers het sommer by die spanne wat aan die kompetisie deelgeneem het gekuier, en in ‘n paar gevalle was die potte leeg geëet teen die tyd dat die beoordelaars dit wou beoordeel. Die mampoer het gevloei en die mense het van die bale, wat uitgesit is vir sitplek, losgemaak en op die grond oopgesprei vir ‘n dansvloer.

Dit het gewys dat die Wildsfees beslis bestaansreg op sy eie het, en twee jaar daarna is die eerste nuwe Wildsfees op die terrein van Thaba park aangebied.

Die Thabazimbi Wildsfees het intussen ook die vreemde benaming van Game and Tourism EXPO afgeskud en is nou weer terug in volle glorie as Suid-Afrika se eerste oorspronklike Wildsfees.