Idols by Wildsfees ‘n wenner
THABAZIMBI – Lanklaas is soveel bekende liedjies uit die nuwe FAK (Federasie vir Afrikaanse Kultuurverenigings) Sangbundel so “feestelik” in Thabazimbi gehoor.
Die geleentheid was tydens die afgelope uiters geslaagde Wildsfees, waar hierdie liedjiefees op Idols-formaat aangebied is.
Die plaaslike ATKV (Afrikaanse Taal en Kultuur) het die kompetisie gereël en aangebied. Alles met die volle steun en aanmoediging van die Wildsfees-organiseerders wat hiermee ‘n unieke eerste eie vir alle volgende feeste geskep het – Wildfeeste wat hopelik nou weer ‘n vaste instelling op die bosveld-kalender geword het.
Die eerste rondte-uitdunne is op Vrydag 31 Mei gehou en die beoordelaars was aangenaam verras met die deelnemers se spontane liedjie keuses. Die dertien finaliste het ‘n tweede singkans gekry en op die ou-end is drie wenners aangewys: Ben Hearn (derdeplek), Jeané Nel (tweedeplek) en Gerdri Eloff in die eerste plek. Hierdie drie het die volgende dag geleentheid gekry om saam met Marì van Jaarsveld op die Wildsfees-verhoog voor die skare op te tree.
Op die verhoog het hulle baie professioneel vertoon en was hulle ware wenners. Marì het namens die ATKV die hoop uitgespreek dat daar volgende jaar nog baie meer “Idol”-deelnemers sal wees. Sy is tevrede dat hierdie jaar se doelwit bereik is. Die harde werk van die ATKV-helpers en beoordelaars
was werklik nie verniet nie, volgens die organiseerders was al die deelnemers wenners.
Sy sien uit na ‘n nog groter groep deelnemers op die volgende Wildsfees. Die beoordelaars was Marì van Jaarsveld, Rita en Vollie Volschenk en Franco Loots.
Die wenners van die FAK-idols kompetisie, vlnr: Gerdri Eloff (wenner), Jeane Nel (tweedeplek) en Megan Hearn (vierdeplek). Agter: Ben Hearn (derdeplek).