Community

Hoe die SAVF my lewe verander het

Ons lesers skryf:

Ek het van Rustenburg af verhuis na Thabazimbi. My man was vir ‘n geruime tyd sonder werk toe kry hy werk op Amandelbult. Ek het vir omtrent ‘n jaar nie uit my huis gekom nie, wou glad nie met ander mense kommunikeer nie.  Nie eens die deur oopgesluit nie. Ek het my man dorp toe gestuur want ek wou nie eens dorp toe gaan nie. Ek was heeltyd in trane en het my dae omgehuil omdat ek gesit en verlang het na my kind en kleinkind, want hulle het agtergebly in Rustenburg. Ek was baie depresief en het ‘n maagseer ontwikkel. Later het ek ook pyne en skete begin ontwikkel. Snags kon ek nie meer slaap nie, al het ek ‘n slaappilletjie gedrink. As my man in die oggend opstaan om te gaan werk dan is ek nog steeds wakker.

Een oggend bel ek my suster en sy sê vir my dat ek by ‘n organisasie moet aansluit, maar ek het nie geweet of dit die regte keuse is nie, want ek wil glad nie mense sien nie. Een aand terwyl ek weer so wakker lê het die gedagte by my opgekom om by die SAVF aan te sluit as ‘n vrywilliger. Toe ek opstaan het my moed my begewe, maar ek trek toe aan en besluit om ‘n entjie te gaan ry en te kyk waar ek uitkom. Julle sal my nie glo nie ek ry toe direk na die SAVF kantoor toe klim uit my kar uit en stap die kantoor binne. Daar kry ek die vriendelikste vrou, Christelle Barnard, agter haar lessenaar. Sy vra of sy my kan help en ek vra haar toe of ek kan aansluit as ‘n vrywilliger. Sy het my so mooi en vriendelik ontvang en al die nodige dokumentasie gegee om in te vul en gewys wat hulle als daar doen. Toe sê sy vir my dat ek die volgende oggend daar moet wees dan kan ek uithelp in die klerewinkel. Die volgende oggend het ek opgestaan en gegaan maar was maar bietjie sku gewees. Weer het Christelle my vriendelik ontvang en aan die ander vrywilligers bekend gestel. As jy by die SAVF kantoor instap dan is die vriendelike Christelle op haar pos en sy laat ‘n mens net goed voel.

Die mense by die SAVF het my lewe so verander dit het my tweede huis geword. Hier luister ons na mekaar se lief en leed. Ons werk baie lekker saam dit voel amper soos familie.

Vir almal by die SAVF wil ek net sê baie dankie, julle het my lewe verander en weer vir my ‘n doel in die lewe gegee om voor te lewe. Ek het lief geword vir julle. Julle voel soos my sussies.

So die dames wat by die huis sit en nie weet wat om te doen nie kom sluit aan by ‘n goeie wenspan. Dankie julle almal by die SAVF.

‘n Vrywilliger