Bosveldmense kan kook
THABAZIMBI – Soos maar die geval, was die Wildspotjiekoskompetisie weereens een van die tradisionele aanbiedings tydens die afgelope Thabazimbi Wildsfees. Alhoewel daar nie veel toeskouerswaarde aan verbonde is nie, soos ‘n vyfdag krieketreeks, het deelnemers hul beste gelewer en lekker gekuier.
Wat mens na die afloop van hierdie jaar se kompetisie kan sê is dat daar beslis nie gebrek aan oorspronklikheid en gewaagdheid by die mense van die Bosveld se kookvermoë is nie, veral nie as dit by potjiekos, en dit wat daarmee saamgaan, kom nie.
Koedoe en blesbok was die bobaas vleis in die potte met ‘n blouwildebees so kort op hul hakke. Van ‘n wildsbobotie tot ‘n ribbokslaai was op die spyskaart met allerhande interessante potbrode wat die beoordelaars maar net verder laat kopkrap het.
Vir ‘n eerste poging by die kompetisie, het die Lang, Blou, Blond en Bles span van Ian Kotzé, daarin geslaag om as die algehele wenspan aangewys te word. Die spanne was so op mekaar se hakke dat daar verdere pryse toegeken is aan die Wes Agri Boerespan (potjieste pot), Die Boskosvreters (span van die dag) en die Exanten-span (mees eksotiese bydis).
Die wenprys het bestaan uit ‘n blesbok ter waarde van R2000, geskenk deur Northam Speed Shop en Nama O Rama slaghuis op Northam, asook ‘n R1000 kontantprys geskenk deur Kwêvoël. Ander pryse, met ‘n totale waarde van ongeveer R5000, geskenk deur onder meer Die Deli, Thabazimbi Boog en Jag, het die res van die pryse uitgemaak. Dewside Restaurant en Thaba Graphix, wat as die amptelike borg vir hierdie en ook komende Wildspotjiekoskompetisies gaan instaan, het ook ‘n paar ete-bewyse as pryse ingegooi.
Die wenspan vlnr: Rozaan (blou), Joe-Anne (blond) en Ian (lank). Afwesig: Ernst (bles).