Jongspan help om visse te red
THABAZIMBI – Talle tieners en jong kinders het die naweek hul moue opgerol om te help om die vis vanuit die, amper droë, Bierspuit-dam na veiligheid te neem.
Dit is nou al ‘n geruime tyd wat Bierspruit-dam se water besig is om op te droog. Eers het van die lede van UPM Hengelklub die vis uitgevang en in ‘n ander dam gegooi, maar die dam het so vinnig opgedroog dat hengelaars nie meer kon vang nie, daar moet nou ingeloop word om vis uit te skep. Klublede het ‘n sleepwa met ‘n seil uitgevoer en water ingetap sodat die visse wat uitgeskep kan word na ‘n ander dam vervoer kon word.
Die UPM-Hengelklub spreek hul dank uit teenoor almal wat deel was van die poging om die visse te red. Hulle vra dat indien, daar enige iemand is wat mielies kan skenk of fondse beskikbaar kan stel om die sowat 1000 visse te voer, hulle kan kontak by jennystreak@gmail.com.
Dillan van Niekerk, Harold van Loggenberg, Gregory du Plessis, Jonathan Janse van Rensburg en Phillip Steenkamp het nie geskrik vir die modder in hul poging om die Bierspruit-dam se visse te red nie.