Dink entrepreneuries en moenie deel word van die werkloosheidstatistiek nie

Solidariteit Helpende Hand doen ‘n beroep op jongmense om nie deel van die stygende werkloosheidskoers in die land te word nie.

Volgens Statistiek SA se Arbeidsmagpeiling is amper 7 miljoen mense in Suid-Afrika werkloos. Van die land se werkloses is meer as 70% tussen die ouderdomme van 15 en 34.

“Met entrepreneuriese vaardighede hoef jy nie deel te word van die groeiende groep werkloses in die land nie,” sê Karin Venter, projekorganiseerder by Helpende Hand se Beroepsleidingsdiens. “As entrepreneur kan jy vir jouself werk skep en dan ook vir ander werksgeleenthede skep. Daarby het jy ook ‘n Plan B wanneer uitdagings in die werksplek opduik.”

Helpende Hand verstaan die realiteit waarmee jongmense te doen het en stel daarom ‘n entrepreneurskompetisie vir jongmense bekend waarmee ‘n entrepreneursingesteldheid ontwikkel kan word en vaardighede vir die besigheidswêreld verskerp kan word.

Die kompetisie skop op 28 Mei af en die ondersteunende e-leer opleiding is gratis.

Besoek www.loopbaan.co.za vir volledige inligting of stuur ‘n e-pos aan karin@helpendehand.co.za vir navrae.